Update Video
STILBAAI NUUS - Hoewel die reuk van rook Woensdag 3 Mei nog sterk in die lug gehang het na die verwoestende brand wat die vorige dag in die Klipfontein-gebied uitgebreek het, is die ergste blykbaar verby.
Volgens 'n inwoner het die brand so teen etenstyd begin, maar die oorsaak is nog nie bekend nie. Die sterk wind het brandbestryders van Hessequa-beskermingsdienste bemoeilik en is Working on Fire (WoF), Eden-brandweer en lugondersteuning verkry.
Boere van die omgewing het ook gehelp en groot tenks met water is aangery.
Huise en ander strukture was in 'n stadium in gedrang en is brandweerpersoneel daarheen ontplooi.
"Geen beserings is tot dusver aangemeld nie," het Susan Geldenhuys, munisipale woordvoerder aan Suid-Kaap Forum gesê.
Kort na die brand begin het draai die wind en verwoes 'n klein plantasie. Lugondersteuning moes ook verkry word. Foto's: Wilma Adamson
Teen saktyd Woensdag het Geldenhuys gesê dat die vuur deur die nag gemonitor is en geen opvlammings was op die buite brandlyne nie.
"Die brand word steeds gemonitor tot dit veilig verklaar word."
Kyk 'n video hieronder:
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'