Gallery Update
HESSEQUA NUUS - Titelaktes deur die Hessequa-munisi-paliteit, as bewys van huiseienaarskap is op Maandag, 20 September in onderskeidelik Slangrivier en Albertinia oorhandig.
Slangrivier
Hier is 29 titelaktes deur inwoners van die Asla Park-behuisingsskema vanaf die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles in die gemeenskapsaal in ontvangs geneem.
Fotogalery: Titelaktes vir huiseienaars
Gerald Boezak (plaaslike wyksraadslid), Johannes Hartnick (onderburgemeester), Margaret Jakobs (portefeuljevoorsitter), asook raadslede, Ben Smith en Theuns van der Berg het die verrigtinge bygewoon. Die delegasie is ook deur twee munisipale amptenare bygestaan. Dit bring die totaal op 239 begunstigdes van die buurt wat nou volwaardige eienaars is.
Riddles en Boezak het die begunstigdes bedank vir hul geduld en bydrae tot die sukses van die woonbuurt.
Volgens Riddles kan die begunstigdes hul transportaktes as 'n middel uit armoede gebruik en hulle gemaan om dit soos goud te bewaar. Hy het hulle ook aangeraai om hul testamente op te stel om onnodige probleme in die toekoms te vermy.
Boezak het gesê dat hy die oorhandiging van die titelaktes in sy termyn tot dusver as top prioriteit gestel het. "Ek voel tevrede dat ek dié doelwit kon bereik om julle waardevolle dokumente in julle besit te kry."
Franklin Hartnick en sy vrou, Carmen het hul dankbaarheid teenoor Riddles en die Raad uitgespreek. "Dit is 'n blye dag in ons lewe, woorde kan nie beskryf hoe ons voel oor die dokumente nie."
Die groep was duidelik in hul skik toe hulle hul titelaktes vanaf rdl Grant Riddles (heel agter, middel) en sy mederaadslede in ontvangs geneem het. Foto: Clive Pretorius
Franklin en Carmen Hartnick ontvang hul titelakte van rdl Margaret Jakobs, terwyl Johannes Hartnick bystaan. Foto: Clive Pretorius
Albertinia
Inwoners van Albertinia was verheug oor die titelaktes wat Maandag aan hulle deur rdl Grant Riddles in die plaaslike gemeenskapsaal oorhandig is.
"Baie van julle wag al lank op huise en hierdie is julle bewys dat dit nou jou eiendom is. Bewaar dit, want dit is jou en jou nageslag se erfenis," het Riddles gemaan.
Die 73-jarige Sophia Michaels is die oudste van die inwoners wat haar titelakte ontvang het en Lizel Uithaler (33) die jongste.
"Ek is so dankbaar hiervoor, want ek wag al lank hiervoor," het sy gesê.
Die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles staan by die Albertinia-begunstigdes. Foto: Mariska Visagie
Vorige artikel: Inwoners kry titelaktes
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'