TUINROETE | HESSEQUA NUUS - Vleesbaaiers is baie Suid-Afrikaners vanjaar een voor deurdat hulle dalk reeds hulle bydrae vir Boomplantdag gelewer het. Boomplantdag word tradisioneel op 1 September gevier, maar vir maksimum impak, is die neiging om die hele maand aan boomplantinisiatiewe te wy.
Op Vleesbaai is 'n laning koraalbome geplant danksy 'n skenking van wynmaker en voormalige Springbokrugbyspeler, Hempies du Toit.
Die laning is vanaf Vleesbaai se ingang tot by die hek van Kloofsig, 'n nuwe aangrensende ontwikkeling, geplant.
'n Lid van die estetiese komitee op Vleesbaai, Jan Odendaal vertel dat Du Toit die boompies uit saad van 'n reuse koraalboom gekweek het. Die koraalboom is deur die weerlig geslaan waarna Du Toit die saad bekom en die saailinge wat nou op Vleesbaai staan, gekweek het.
"Bome versag enige omgewing en lok boonop voëls en bye," voeg Odendaal by.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'