TUINROETE DISTRIKSNUUS - Boere en besighede in Hessequa en die Tuinroete skenk met 'n oop hand kos aan inwoners in nood.
"'n Boer het gedurende week drie van die inperking 'n skaap geskenk en die slaghuis het nog twee bygesit, geslag en aan inwoners gaan uitdeel," vertel Johan Hanekom, die bestuurder van 'n slaghuis op Heidelberg. "Daar is nog 'n halwe bees in die bank wat geskenk is."
In die agterplaas van die slaghuis kook Dawid Armoed kerrie of sop met die skenkings en groente wat die slaghuis ook self bydra. "Dawid is Bertus Olivier, eienaar van die slaghuis se tuinier, elektrisiën en werktuigkundige," vertel Hanekom. "Hy is so blymoedig al het hy in Desember verlede jaar sy huis en sy besittings in 'n brand verloor."
Die vorige week het Julian Buis, bestuurder van Heidelberg-rugbyklub gehelp om huishoudings in nood in Oosdorp te identifiseer Die slaghuis het toe 200 brode en 100 blikkies konfyt met hul lorrie aan die mense gaan uitdeel.
Cornelle Carstens van Mossel Bay Advertiser het met Phillip Terblanche, 'n boer van Jonkersberg en voorsitter van die Outeniqualand-boerevereniging gesels.
Die vereniging is betrokke by kosvoorsieningsprojekte wat veral deur kerke gedryf word. Die vereniging bestaan uit boere in die Mosselbaai- en George-distrikte.
"Ons glo charity starts at home. Ons mense kyk na mekaar soos ons dit nog altyd gewoond was. Ons raak nie betrokke by pleidooie van politieke partye of munisipaliteite nie. Wat die ouer mense ook onder plaaswerkers betref, word hulle versorg en na omgesien wat kosbehoeftes betref."
Volgens hom word produksie op plase nie op die oomblik deur Covid-19 beïnvloed nie. "Dis business as usual. Ons oes en koeie gaan melkstal toe."
Boere in die vereniging lewer veral produkte aan sopkombuise. "Ons word oorval met versoeke. My buurman skenk produkte tot sover as Calitzdorp. In Groot-Brakrivier werk ons deur onder meer die Verenigde Gereformeerde Kerk wat hulp in Friemersheim verleen."
Terblanche sê dit bekommer hom dat kospakkies nie altyd uitkom waar die nood is nie. "Dié wat moet kry, krý nie en dié wat nie moet kry nie, krý. Dit is hoekom ons ondersteun waar ons weet die nood is. Mense wat kospakkies wil aflaai bloot op soek na fotogeleenthede, kan maar uit ons area wegbly."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'