Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Met Jeugdag voor die deur het Suid-Kaap Forum met drie jeugdiges gesels oor die uitdagings en vreugdes van Suid-Afrika.
Jay-Lee Lupini en Raynette Esau is twee 15-jarige leerders aan Gerrit du Plessis Senior Sekondêr.
"Ons het op skool gehoor hoe moeilik dit was om 25 jaar gelede 'n tiener te wees," vertel Jay-Lee. "Ek dink Hector Pieterson was baie dapper om sy eie lewe op te offer vir 'n beter Suid-Afrika."
Maar is die nuwe Suid-Afrika werklik beter? Kinders op skool het steeds groot uitdagings, want boelies maak dit ondraaglik. "Groter kinders boelie die kleineres. Kinders leef in vrees - jy wil nie hê pouse moet aanbreek nie. Jy is te bang om skool toe te gaan, maar kan ook nie by die huis bly nie, want dan wil jou ma weet wat is fout. En vertel jy haar en sy wil dadelik die boelie op sy plek gaan sit, word jy nog erger geboelie," sê sy.
"Soms is dit so erg dat die kinders gedwing word om goed by hul ouerhuis te steel om vir die boelies te gee," vertel Raynett. "Onderwysers weet nie as kinders geboelie word nie. Almal is te bang om vir hulle te sê, want dan word jy self die teiken." Sy glo haar belangrikste reg is om as tiener gelukkig te wees.
Kyk 'n video hieronder:
Kindermishandeling en -verwaarlosing is oral te sien. "'n Mens weet nooit wie jou gaan seermaak nie, daarom moet jy veral versigtig wees rondom vreemdelinge," sê Jay-Lee. "'n Ouer moet jou op die regte pad vorentoe vat."
In sommige gevalle is dit egter die ouers wat afwesig is. "'n Mens kan gou sien as die ouers nie by die huis is nie, want die kinders soek aandag in die klaskamer. Hulle ontwrig die klasse en 'n mens se skoolwerk gaan agteruit," sê sy.
Berna-Lee Daries (21) het pas aan Northlink-kollege in toerisme gradueer.
"Ten spyte van die moeilike omstandighede op skool en die swak ekonomie in die land, glo ek daar is 'n toekoms vir jongmense.
Ek het ook al 'n baie moeilike tyd beleef, maar wil vir die jeug daar buite sê dit sal beter gaan as jy onthou wie jy is en iets doen wat jou gelukkig maak."
Sy self het geestelik sterker geword deur swaarkry. "My deurbraak het gekom deur 'spiritual dancing' waarin ek my kan uitleef." Sy tree op as choreograaf vir kerke wat 'n program van gewyde danse in hul kerke aanbied.
Lees 'n vorige artikel hier: Boelies maak lewe hel by skole
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'