Update
RIVERSDAL NUUS - Die biblioteke in Hessequa het 'n unieke plan gemaak om munt te slaan uit boeke wat laat terugbesorg word.
Kinders wat boeke laat terugbesorg, kon tussen April en Junie vanjaar hul boete afkoop deur 12 boeke te lees.
Vir volwassenes wat boeke laat terugbring, geld die Food for Fines-projek wat in Oktober afgeskop het en tot November geduur het.
"Dorpsmense mag boeke vir twee weke uitneem, terwyl plaasbewoners dit vier weke lank mag hou," het Ursula Oosthuizen, bestuurder van Hessequa-biblioteekdiens Donderdag 5 Desember verduidelik. "Die boete vir boeke wat laat terugbesorg word, is .20c per boek per dag. In plaas daarvan om die boete in rand en sent te betaal, is lede gevra om eerder nie-bederfbare kos ter waarde van die boete te skenk."
Blikkies vir boeke
Sedert die projek begin het, is reeds R1 000 se boetes op hierdie manier afgeskryf en 150 kositems is in ruil daarvoor ontvang. Dit sluit blikkies vis, vleis en groente, pasta, droë peulgroente, soppoeier en dies meer in.
Die kos wat so bymekaar gemaak is, is Donderdag 5 Desember aan Magda Kamfer van Kindersorg SA geskenk. Die organisasie versorg gesinne waar kinders betrokke is. "Ons gaan die kos verpak en aan gesinne wat waarlik in nood verkeer uitdeel," het sy gesê. Die pakkies sal die week voor Kersfees uitgedeel word. "Sodoende sal kinders in behoeftige gesinne darem iets te ete het."
Kos vir kleintjies
Volgens Kamfer kry 15 gesinne op Riversdal se arm woonbuurte werklik swaar. "Gedurende die jaar verskaf ons elke weeksdag 'n bord warm gekookte kos. Mense loop van Kwanokuthula af tot hier in Beverley Hills-singel vir dié kos. Oor naweke het hulle niks om te eet nie en ons kan van die pakkies vir hulle gee."
Marina Griesel, bestuurder van die munisipaliteit se korporatiewe dienste, het die biblioteekspan gelukgewens met die oorspronklike idee. "Dié kos is die spreekwoordelike vissies en broodjies wat julle meer moet maak."
Van links is Melanie Cloete, Esmé Hugo, Magda Kamfer, Marina Griesel, Charlene Jansen en Ronel Fielies. Foto: Tisha Steyn
Lees 'n vorige artikel: Blikkieskos vir laat boeke
'We bring you the latest Riversdal, Hessequa news'