RIVERSDAL NUUS - 'n Voormalige inwoner en vermeede seksoortreder van Riversdal is reeds drie maande lank in 'n tronk op Buffeljagsrivier in aanhouding.
Die verdagte se identiteit is aan Suid-Kaap Forum bekend, maar omdat beweerde molestering en die statutêre verkragting van minderjariges betrokke is, mag sy naam ter wille van sy slagoffers se veiligheid en beskerming nie bekendgemaak word nie.
Die voormalige inwoner het die dorp 'n paar jaar gelede onder 'n vlaag aantygings en beskuldigings verlaat, na foto's van hom en 'n 13-jarige meisie op sosiale media verskyn het. Dit het tot sy egskeiding en die verbrokkeling van sy gesin gelei.
Die verdagte en 'n meisie van die dorp het na Kaap Agulhas verhuis. Hulle het 'n babaseuntjie saam.
Die kommunikasiebeampte van Bredasdorp-polisie, ao J Marthinus het die verdagte se arrestasie op 21 Januarie vanjaar aan die Forum bevestig.
Luidens die amptelike mediaverklaring het die klaer in die saak inligting bekom oor 'n man wat na bewering minderjarige meisies in sy huis aanhou en hulle geld en klere in ruil vir seksuele aandag gee. Die polisie het ondersoek ingestel. Die man en 'n 14-jarige meisie is op heterdaad naak in sy bed betrap.
Die verdagte, na wie in die klagstaat slegs as "'n 41-jarige man" verwys word, is onmiddellik in hegtenis geneem. Later is vasgestel hy het haar reeds sedert haar 13de verjaardag seksueel misbruik.
Die ondersoekbeampte, ao Coetzee het ook vasgestel die meisie is nie die man se enigste slagoffer nie. Nóg vyf meisies is geïdentifiseer.
Die verdagte se borgtogaansoek op 25 Maart in die landdroshof op Bredasdorp het misluk. Hy bly in aanhouding en kom weer op 6 Mei vanjaar voor. Die ondersoek deur die polisie se Wes-Kaapse eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe duur intussen voort.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'