HESSEQUA NUUS - Terugvoer van kleinhandelaars, plaaslike sakelui en ook ander besigheidseienaars dui daarop dat Hessequa en omstreke 'n besige - en in meeste opsigte - 'n suksesvolle Desembervakansie agter die rug het.
Met die remskoen van die Covid-19-inperkings nou finaal afgeskud, kon besoekers weer normaal sosialiseer hoewel dit duidelik was dat baie hul rieme dunner moes sny.
Die druk wat Suid-Afrikaanse huishoudings ervaar weens die gelyktydige styging van inflasie en rentekoerse, stygende brandstof- en kospryse en natuurlik die ergste beurtkrag in die geskiedenis van die land, het beslis 'n negatiewe inpak op mense se kooppatrone gehad.
Uit navrae het dit geblyk dat daar 'n sterk toename was in besprekings vir verblyf en is veral restaurante en ander eetplekke druk besoek. Druk verkeer is oral op paaie ervaar en mense het steeds geld bestee op vermaak en gewone inkopies soos kos en drinkgoed.
Stilbaai het behoorlik gekook en dit was duidelik dat die spook van die koronavirus nie meer loop nie, berig Johan Victor. Die stringe karavane het na die skole gesluit het die twee karavaanparke, Ellensrust en Jongensfontein, behoorlik volgepak en daar was nie plek vir 'n muis nie. Daar was ook mense in al die vakansiehuise en die strate was vol motors met vreemde nommerplate.
Volgens Mariaan Harris van die toerismekantoor in Stilbaai, was daar wel minder besoekers by die toerismekantoor en by die voer van die palings, maar dit was onbeduidend. Sy sê ook dat die vakansiegangers deur die bank nie uitgepraat kon raak oor die vriendelike en hulpvaardige werknemers by die winkels en eetplekke in Stilbaai nie.
Ten spyte van swak weer op sommige dae, was die strande vol en op die Goukourivier het dit gewemel van bote, skieërs, roeiers en swemmers.
Die verkeer was party dae maar rof, maar daar was geen ernstige ongelukke nie en van padwoede was daar glad nie sprake nie. Mense het wel gekla dat op dae wat daar verkeerbeheer toegepas is by die brug se sirkel, verkeer glad nie gevloei het nie.
Die NSRI het ook geen probleme ondervind nie en is net een keer uitgeroep na 'n ski-ongeluk naby die brug op die rivier.
Alhoewel vakansiegangers duidelik die druk op hulle beursies voel, het sakeondernemings baie goed gedoen en is besighede in die algemeen heel in hul noppies. Volgens hulle het die mense weggeskram van sekere luukse produkte, maar die kosverkope het baie goed gedoen.
Rachel Wall, voorsitter van Stilbaai Sakekamer, sê dit is belangrik om te voldoen aan die verwagtinge van vakansiegangers en daarom vul die informele markte en opspring-fasiliteite 'n belangrike gaping gedurende die vakansieseisoen. Die Stilbaai Touchies, Trans Agulhas-rubberbootwedvaart en die Rock Fees was weereens 'n groot sukses en het baie voete na Stilbaai gelok. Sy sê in haar gesprekke met sakelui en ook na aanleiding van die vraelys wat vakansiegangers ingevul het, kan die afleiding gemaak word dat dit 'n baie suksesvolle vakansieseisoen was. "Oor die algemeen is dit die beste vakansieseisoen ná die Covid-pandemie, maar vakansiegangers se koopgewoontes het wel verander."
Die Brugmark het as geheel baie besoekers gehad en het dus 'n groot bydrae gelewer tot vakansiegangers se Stilbaai-koopervaring. Die terugvoer deur besoekers by die mark is belowend en spesifieke melding word gemaak van die onderdak sitplekgeriewe en die geleentheid om 'n glasie wyn of 'n plaaslike craft bier saam met die heerlike straatkos te geniet.
André van Wyk, eienaar van die Spar in Riversdal, het aan Suid-Kaap Forum gesê verkope, veral wat kos en drank betref, was goed, maar dis duidelik dat beurtkrag en brandstofpryse tog sy tol geëis en mense se besteebare inkomste ingekort het.
Bali Trading se eienaar, Danie Geldenhuys, sê hulle het 'n baie goeie seisoen beleef en van 15 Desember af het hulle elke dag 'n ongelooflike klomp besoekers gekry wat iets kom koop of eet het.
Adriaan Steyn, eienaar van Van Riebeeck Motor en Steyn's Trading, wat in tweedehandse meubels spesialiseer, sê hulle het fluks sake gedoen en veral brandstofverkope het mooi geklim.
"Lekker aan die gang," was Magda Jackson, eienaar van Enya's, se reaksie. "Ons melkterte en pasteie het van die rakke af gevlieg."
En by JC Slagtery was dit 'n miernes van bedrywighede soos besoekers daar ingestroom het om van hul vleisprodukte aan te skaf.
Mariaan Harris, kantoorbestuurder van die Stilbaai-toerismeburo, by Piet Paling, gelukbringer van die toerismeburo. Foto: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'