HESSEQUA NUUS - Na berigte dat twee honde in die Wes-Kaap positief getoets het vir hondsdolheid, ook bekend as rabies, is dit belangrik om die simptome te kan identifiseer en die voorsorgmaatreëls te ken wat getref moet word.
Hondsdolheid is dodelik en word veroorsaak deur virus wat die brein aantas. Die siekte word deur soogdiere, meestal roofdiere, oorgedra.
Die vernaamste draers, benewens honde, is die stokstertmeerkat, rooimeerkat, bakoorjakkals, muishonde, die aardwolf, vlêrmuise en rooijakkalsse.
Ten spyte van al die vordering op mediese gebied kon dié siekte nog nooit in toom gehou word nie.
Oordrag vind plaas deur speeksel waarin die virus voorkom. Wanneer ’n slagoffer gebyt word, versprei die virus nie deur die bloed nie, maar besmet dit die senuweevesels en word dan versprei al met die senuwee tot by die brein.
Die tydperk wat verloop vandat infeksie in mense plaasvind totdat die eerste simptome verskyn, is tussen een en drie maande. Dit is van uiterste belang om voorkomend op te tree. Katte en honde moet ingeënt word en dit behoort troeteldiere te vrywaar teen rabies.
Simptome:
- Gedragsveranderinge: mak diere kan wild en aggressief raak terwyl wilde diere mak mag raak.
- Honde: aggressie, getjank, aanvalle sonder enige waarskuwing, kwyl, hap na denkbeeldige vlieë, staar, loop doelloos rond, oop bek, onvermoë om te sluk, vreet stokke en klippe, versmoring, opgooi, loop moeilik.
- Katte: aggressie en val aan sonder enige waarskuwing.
- Wilde diere: kom mak voor, gaan huise en tuine binne, nagdiere word bedags gesien, val mense en voorwerpe aan sonder enige waarskuwing.
- Laastens tree verlamming en dood in.
Behandeling
Was bytplekke met seep en water vir 10 tot 15 minute en kry dadelik mediese hulp. Behandeling na blootstelling kan die siekte verhoed.
Bly weg
Moet onder geen omstandighede 'n wilde dier of rondloper dier hanteer nie.
Maak alarm
Kontak owerhede wat met diere werk wanneer diere met simptone opgemerk word.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'