RIVERSDAL NUUS - Die inisiatief vanuit die speaker se kantoor om na besighede in Hessequa uit te reik, bevorder nie net gesonde verhoudinge tussen die munisipaliteit en plaaslike sakelui nie, maar kan op die medium- tot langtermyn tot voordeel vir alle betrokke partye lei.
Só het Andrew Stroebel, speaker van Hessequa-munisipaliteit gesê toe hy Dinsdagoggend, 23 Augustus, 'n besoek by Hessequa-abattoir in Riversdal afgelê het.
Hy is reeds 'n geruime tyd besig om individuele besighede in die streek op uitnodiging te besoek om agter die hartklop van hul ondernemings te kom.
Stroebel sê met sy besoeke kan hy persoonlik met besigheidseienaars en werknemers gesels en kan hulle openlik oor allerlei sake kommunikeer.
"Ek bedank sakelui eerstens vir hul bydrae tot die plaaslike ekonomie, veral met die skep van werksgeleenthede. En dan bespreek ons ook moontlikhede oor hoe die munisipaliteit besighede kan help om te groei en meer werksgeleenthede te skep.
"Dis belangrik om met die persoonlike besoeke 'n gevoel te kry van wat op die grond aangaan en presies waarmee hulle besig is. Indien daar uit dié gesprekke knelpunte opduik wat ekonomiese groei belemmer en waarmee die munisipaliteit hande kan vat met sakelui om dit op te los, beweeg ons mos vorentoe.
"Die munisipaliteit is nie daar om werk te skep nie.
"Ons kan wel die regte klimaat of omgewing skep waarin besighede kan floreer en meer mense in diens kan neem. Dis tog die privaat sektor wat werk skep, nie ons nie. Ons wil dit net makliker maak vir hulle om sake te doen."
Stroebel sê deur agter die kap van die byl te kom waarom besighede soms sukkel, kan hy waardevolle insette lewer wanneer die munisipaliteit beleid bespreek en kan ingeligte besluite rondom begrotings ook geneem word.
"Dis daarop gemik om plaaslike ekonomiese groei te stimuleer en 'n gesonde besigheidsklimaat te skep waarin besighede optimaal kan funksioneer."
Rentia Roodt, higiënebestuurder by die abattoir, het tydens die speaker se besoek gesê hulle skep voltyds werk vir 73 mense, wat dié abattoir een van die grootste werkgewers in Hessequa maak.
Op 'n vraag van Stroebel hoe hulle die getal werknemers kan opskuif, het sy gesê hulle is druk besig met planne om vleis uit te voer, maar dis 'n gewigtige uitdaging om goedkeuring en die nodige dokumentasie te kry.
"Ons het onlangs 'n Food Safety Assessment (FSA) ontvang om vleis aan groot bekende kettinggroepe te lewer. Ons volgende doelwit is om nou ons ZA-registrasie te verwerf wat ons in staat sal stel om vleis na die buiteland uit te voer.
Dis uiters moeilik om dit te bekom, omdat baie streng maatreëls vir goedkeuring geld."
Werknemers van Hessequa-abattoir in Riversdal staan by die speaker van Hessequa-munisipaliteit, Andrew Stroebel (blou skoene).
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'