HEIDELBERG NUUS - Met die huidige ekonomiese omstandighede wat nie baie rooskleurig lyk as gevolg van die voortslepende Covid-19-pandemie nie, is dit tog verblydend om te weet dat daar wel individue en instansies is wat uit hul pad gaan om veral jongmense met die nodige vaardighede te bemagtig.
Een so 'n instansie is die Work 4 A Living, 'n nie-winsgewende organisasie, onder leiding van Linda Doyle.
Sy het onlangs met die eerste opleidingssessie by die Diepkloof-jeugsentrum op Heidelberg begin.
Volgens Doyle strek die opleiding oor twee fases, waarvan die eerste fase 13 sessies van sowat vyf ure elke oggend behels. Daar is ook verskeie vakkeuses waaruit die jeugdiges kan kies, soos kantooradministrasie, rekenaaropleiding, kassier, bemarking en vele meer.
Doyle het haar teleurstelling uitgespreek dat daar nie veel meer vir registrasie aansoek gedoen het nie. Sy het die hoop uitgespreek dat daar nog belangstelling sal wees in die nabye toekoms.
Buiten die opleiding, voorsien die instansie ook soggens voedsel aan ongeveer 30 kleuters met behulp van die CWP-werkers. Hier word die kinders elke dag soggens met pap voorsien en twee keer per week word hulle ook met sop en toebroodjies bedien.
Belangstellendes kan Doyle (082 075 2171) skakel om meer inligting rakende die kursusse te bekom.
Die werkers van die regering se CWP-projek bedien die kleuters met pap.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'