Update
STILBAAI NUUS - 'n Inwoner van Stilbaai was Dinsdag steeds in intensiewe sorg in die hospitaal na 'n fietsongeluk Saterdag 23 Februarie.
JC Janse van Rensburg (32), een van die bestuurders van OK Foods op Stilbaai, het saam met 'n groep vriende op 'n gewilde bergfietsroete in die omgewing gaan ry.
"Volgens ek verstaan het hy teen 'n steil afdraend naby die laagwaterbruggie oor die Goukourivier beheer oor die fiets verloor en baie hard geval," het Jacques Cronjé, sy swaer, gesê.
"JC het 'n been gebreek, 'n groot wond aan sy arm, 'n rib gebreek wat 'n gaatjie in sy long gesteek het en hy het inwendige beserings. Gelukkig het hy nie 'n kopbesering opgedoen nie en hy is by sy bewussyn."
Volgens Cronjé is Janse van Rensburg steeds in die intensiewe sorgeenheid by Life Bayview Hospitaal op Mosselbaai. "Hy kry medikasie wat binne-aars toegedien word. Sy toestand is ernstig, maar stabiel. Ons weet nie wanneer hy na 'n gewone saal oorgeplaas gaan word nie."
Janse van Rensburg, wat op Riversdal grootgeword het, is getroud met Ina, dogter van André von Molendorff, eienaar van OK Foods op Stilbaai. Die egpaar het 'n dogtertjie van 17 maande oud.
Die familie wil JC se vriende wat saam met hom fietsgery het, naamlik Jan Hennop, Peet van Staden, Daniel Matthee, Ivan Minnie en Hanru Britz, asook dr. Fanie Fourie en die NSRI bedank vir die bystand wat hulle na die ongeluk aan hom verleen het.
Lees 'n vorige artikel hier: Bekende in hospitaal na fietsongeluk
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'