HESSEQUA NUUS - Een van die Suid-Kaap se bekendste en mees geliefde inwoners, Joh Groenewald van George, is Donderdagmiddag oorlede. Hy is verlede jaar met kanker gediagnoseer.
Die 80-jarige Groenewald het 'n wye belangstellingsveld gehad en het baie gedoen vir erfenisbewaring. Joh se hartsplek was dan ook sy seeplaas, Groenkant tussen Gouritsriviermond en Stilbaai, en was hy daar tot kort voor sy dood.
Groenewald was baie bekend in die kringe van omgewingsbewaring, erfenis en seëlversameling. Op sy dag was hy onder meer 'n joernalis in die parlement vir 'n publikasie en betrokke by die kommunikasiebedryf.
Hy het ook baie vir Group Editors se plaaslike koerante beteken. Groenewald was 'n gereelde en ywerige leser van die koerant wat graag gehelp het met bydraes waar hy kon.
Die gastelys tydens sy 80ste verjaarsdag-geleentheid verlede jaar in November by Bygracealone in Geelhoutboom by George was 'n weerspieëling van sy wye belangstellingsveld. Onder die gaste was sy broer Evert Groenewald, 'n afgetrede skout-admiraal in die vloot en sy suster, Trudie Groenewald, hoof van 'n argitekspraktyk in die Kaap.
Joh Groenewald op sy 80ste verjaarsdag verlede jaar in November saam met sy lewensmaat, Muriel Hau-Yoon. Foto: Eugene Gunning
Sy lewensmaat van 36 jaar, Muriel Hau-Yoon, het Donderdagmiddag in 'n kort boodskap geskryf: "Dit is met groot hartseer dat ons Joh se familie en vriende inlig dat hy vandag, 23 April, om 13:00 in vrede heengegaan het, tuis op George. Joh het versoek om veras te word. Daar sal dus nie nou tydens die inperking nie 'n begrafnisdiens gehou word nie. Geleentheid om Joh se lewe te herdenk sal op gepaste tyd gereël word. Baie dankie vir elkeen se liefde en gebede.”
Group Editors se groepsredakteur, Ilse Schoonraad, het gesê Group Editors sal volgende week hulde aan Groenewald bring.
“Joh was een van die interessantste, mees inspirerende persone wat ek ooit ontmoet het. Mens kon altyd op hom staatmaak en hy het vir die streek, sowel as vir Suid-Kaap Forum en George Herald, ontsaglik baie gedoen en beteken. Almal wat die voorreg gehad het om dié sagte reus te ken, gaan hom ontsaglik mis. Ons harte gaan uit na Mu. Wat ‘n onbeskryflike verlies.”
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'