HEIDELBERG NUUS - 'n Bejaarde egpaar het groot skade gely toe daar Vrydagoggend 22 Mei ongeveer 01:00 by hul huis ingebreek is. Die dief het toegang deur 'n venster van die TV-kamer verkry.
Volgens inligting wat deur die egpaar aan die polisie verskaf is, het 'n persoon, wat met 'n koevoet gewapen was, die huis betree terwyl die 76-jarige man nog televisie gekyk het en die vrou (74) in hul slaapkamer geslaap het.
Die inbreker is afgeskrik toe die vrou wakker geword en hom gewaar het. Sy het alarm gemaak en hy het op die vlug geslaan.
Van die items wat gesteel is, is 'n platskermtelevisie, selfone, armhorlosies en geheuestokkies.
Volgens die ondersoekbeampte, sers. Whitey Solomon is die egpaar erg getraumatiseerd en hy doen 'n dringende beroep op enigiemand wat inligting oor die inbraak kan verskaf om die polisiestasie by 028 722 1910 / 028 722 8227 of Solomon by 084 661 1155 te kontak.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'