HESSEQUA NUUS - Die Southern Cape Fire Protection Association (SCFPA) is die afgelope paar jaar druk by die uitvoer van beheerde brande in die distrikte van sowel Hessequa- as Mosselbaai-munisipaliteit betrokke.
Die beplanning van 'n beheerde brand word bepaal volgens die behoefte van die grondeienaar.
Die SCFPA se betrokkenheid wissel van die eerste perseel besoek voor brandbane strategies gemaak word, tot die uitvoering en monitoring van die beheerde brand.
Oor die afgelope drie brandseisoene was die SCFPA en die span op Riversdal vir die uitvoer van 59 suksesvolle beheerde brande in die distrik verantwoordelik.
Tussen die Hessequa- en Mosselbaai-munisipaliteite is die afgelope drie jaar 'n totaal van 2 585 beheerde brandpermitte aan grondeienaars toegestaan. Beheerde brande is krities ten opsigte van risikovermindering en veral die skep van veilige gebiede in geval van onbeheerde brande.
Dis weer die tyd van die jaar wanneer grondeienaars met beheerde brande moet begin om grond effektief te bestuur - hetsy vir weiding, blomproduksie of indringerbeheer is. Daar moet egter te alle tye aan die nodige reëls en regulasies van die plaaslike brandweerdiens voldoen word om die uitvoer van beheerde brande suksesvol en sonder noodlottige gevolge te laat plaasvind.
Hoewel die amptelike brandseisoen in die Hessequa-distrik van 1 Desember 2019 tot 30 April 2020 gesluit is, het Hessequa-munisipaliteit die seisoen met betrekking tot landboubehoeftes weer vanaf 2 Maart oopgestel. Die grondeienaar wat wil brand moet weer vir 'n spesiale inspeksie en permit reël, wat op meriete soos bepaal vir die doel van die brand toegestaan sal word. Die 2019-brandpermitte is nie meer geldig nie. Vir alle inligting in verband met permitte moet Hessequa-munisipaliteit by 028 713 2222 gekontak word.
Risikovermindering, grondvoorbereiding, plantegroei-verandering, ontdigting van natuurlike veld, brand van fynbos, beheer van indringerplante en brand van stoppellande na oes is die algemeenste redes vir die uitvoer van beheerde brande gedurende die amptelike seisoen.
Die grondeienaars werk goed met die SCFPA en Hessequa-munisipaliteit saam ten opsigte van permitte.
Die amptelike vuurseisoen vir die Suid-Kaap word tans aanvaar as van 1 Desember tot 30 April, maar die gebied word as 'n heel jaar vuurseisoen beskou, hoofsaaklik as gevolg van warm bergwindtoestande gedurende die wintermaande.
Juis om dié rede is dit uiters belangrik dat elke grondeienaar ordentlike gebeurliksheidsbeplanning moet implementeer. Al hoe meer onbeheerde en buitengewoon groot brande raak die norm. Dis keer op keer bewys dat klimaatsverandering die hoofrede hiervoor is. Nalatigheid van grondeienaars as oorsaak kan egter nie geïgnoreer word nie.
Die SCFPA fasiliteer die proses vir SCFPA lede so ver moontlik om noodsaaklike beheerde brande te laat plaasvind, veldbestuur te bevorder, risiko te verlaag en dus sulke groot onbeheerde brande so ver moontlik te voorkom.
SCFPA is 'n nie-winsgewende maatskappy wat lede werf en grondeienaars help om deur middel van alle aspekte van geïntegreerde brandbestuur aan tersaaklike wetgewing te voldoen. Grondeienaars word waar moontlik bygestaan.
Vir meer inligting kan Charl Wade van SCFPA Riversdal by 028 713 1987 gekontak word. Sy e-posadres is scfpa.riversdale@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'