HEIDELBERG NUUS - Vir die tweede keer binne twee weke het 'n voertuig deur 'n inwoner se heining gebars nadat die bestuurder vermoedelik beheer oor die voertuig verloor het.
In die eerste voorval het 'n Daihatsu-bakkie tot teen 'n huis op die hoek van Haig- en Andries du Toitstraat tot stilstand gekom.
Dié keer was dit in Haig-straat, knap teen die N2 net voor die brug wat na die Oos-Dorp ingaan.
Dit het glo Saterdagoggend, 11 Februarie ongeveer 03:20 gebeur.
Die bestuurder en 'n vriend was glo vanaf die Heidelberg-skou op pad Witsand toe, toe die blou Opel Corsa-bakkie met 'n sleepboot oor die stopteken en die randsteen gejaag en tot in die erf van Joemarth 'Mafie' Geldenhuys tot stilstand gekom het.
Die polisie was kort daarna op die toneel, maar het die toneel verlaat nadat hulle nie die bestuurder of sy vriend op die toneel gevind het nie.
Die twee het glo na die bestuurder se selfoon en beursie gaan soek nadat dit glo uit die bakkie verwyder is.
Van die omstanders op die toneel, wat met die harde slag wakker geskrik het, is bure van Geldenhuys. Hulle was ontevrede omdat die bestuurder nie in hegtenis geneem is nie.
By navraag het sers. Imorgene Hendrickls, plaaslike mediabeampte, bevestig dat daar geen klag teen die bestuurder aanhangig gemaak is nie aangesien hulle met hul aankoms niemand agter die stuurwiel gevind het nie. Daar was ook geen beseerdes op die toneel nie. Geldenhuys het ook geen klagte aanhangig gemaak nie.
Volgens hom was die boot en sleepwa Woensdag, tydens Suid-Kaap Forum se telefoniese navraag aan hom, reeds van die perseel verwyder. "Dis net die bakkie wat hier is totdat 'n verteenwoordiger van die versekeraar die toneel kom ondersoek," het Geldenhuys benadruk.
Hy sê die bestuurder het onderneem om die skade aan die heining ten volle te herstel.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'