MELKHOUTFONTEIN NUUS - 'n Baken van hoop. Só het die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, die nuwe behuisingsprojek in Melkhoutfontein op Dinsdag 22 September 2022 beskryf toe hy die eerste steenlegging by dié projek gedoen het.
Simmers het toe die gemeenskap bedank dat hulle nie soos baie ander ongeduldig en opstandig geraak het nie, maar met geloof, wetsgehoorsaamheid en pligsgetrouheid die heuwel aangepak het.
Maar dié baken van hoop het nou ontaard in wanhoop vir 'n klompie ontevrede inwoners wat al jare wag op nuwe huise. 'n Paar onweerswolke dreig nou om oor die projek saam te pak en die ontevrede inwoners sê hul geduld is op breekpunt.
Uit verskeie informele gesprekke met inwoners, telefoonoproepe en selfs uit briewe wat hulle vir Suid-Kaap Forum geskryf het (twee daarvan op bl. 2) blyk dit die mense is behoorlik keelvol vir die talle leë beloftes wat al gemaak is oor die toekenning van huise, veral diegene wat al tot so lank as 25 jaar op 'n waglys is.
Dis veral pensionarisse en bejaardes wat in haglike omstandighede in lekkende sinkhuisies en houthokke moet oorleef met geen vooruitsig op 'n beter toekoms nie.
Afgesien van die talle leë beloftes, beweer die inwoners dat huise wel toegeken is aan verskeie mense van buite Melkhoutfontein wat nie op 'n waglys was nie.
Hulle dring nou daarop aan dat dit reggestel word en dat hulle geholpe raak met huise. Een inwoner, wie se bejaarde moeder 18 jaar gelede aansoek gedoen het vir 'n huis, sê buitemense wat ná haar aansoek gedoen het, het al huise ontvang.
Hy sê daar is mense wat hul bestaande huise verkoop het en weer nuwe huise in die behuisingsprojek gekry het en beskryf dit as belaglik.
"Die Wes-Kaapse regering sien nie om na die basiese behoeftes van bejaardes nie."
As dit reën in Melkhoutfontein lek die bejaarde vrou se dak soos 'n sif en moet sy oral emmers neersit om die druppende water op te vang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’