STILBAAI NUUS - 'n Astrante rob het hom Donderdag 20 April in die pad by Stilbaai-hawe se ingang tuisgemaak.
Daar was natuurlik baie bespiegelings oor hoekom hy daar was, maar die see was Donderdag baie rof en duikers het bevestig dat hulle orcas (moordwalvisse) in die omgewing teëgekom het.
By nadere ondersoek kon gesien word dat die rob heel moontlik 'n infeksie onder lede het.
Een of meer van bogenoemde redes kon veroorsaak dat hy hom daar tuisgemaak het, maar wat wel 'n feit is, is dat hy verseg het om pad te gee. 'n Rob is 'n gevaarlike dier en mense is gewaarsku om uit sy pad te bly. Hy sal aanval as hy enigsins bedreig voel.
Al uitweg was om oranje verkeerskegels om hom te pak terwyl CapeNature en Elaine Hardy van die Stilbaai DBV met kenners kontak gemaak het om te bepaal wat die volgende stap is.
Teen Saterdag het hy opbeweeg tot by die NSRI en Mariska van den Heever het hom op 'n stadium gelok tot naby die rotse, maar hy is weer terug pad toe. Aangesien hy toe op 'n plek in die pad was waar vinnige motoriste tydens beurtkrag maklik oor hom kon ry, het sy Saterdagnag tot ongeveer halftwaalf daar gebly om hom te beskerm.
Sondagoggend het Elaine Hardy met die hulp van Debbie Fraser van die NSRI, Clarence du Toit van CapeNature en Mariska van den Heever, al drie gewapen met besems, die rob gestoot tot by die rotse waar omstnders hom later gesien swem en duik het op soek na kos.
Weereens het die omgeemense van Stilbaai tyd opgeoffer om 'n wilde dier te help in sy uur van nood.
Die rob by die ingang na Stilbaai-hawe was Saterdag vol bravade.
Debbie Fraser, Clarence du Toit en Elaine Hardy besig om Charlie die rob water toe te werk.
Elaine Hardy gee hom daai laaste hupstootjie om terug te gaan see toe.