Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Die Proe Bietjie-kunstefees het het die afgelope naweek alle verwagtinge oortref.
'n Puik vertolking van William Michaels se toneelstuk, As 'n kind se lag verdwyn, deur Kairos-leerders op Vrydagaand 28 Junie het die gehoor tot nadenke gestem. Die stuk is spesiaal deur Michaels, wat ook 'n hoofrol daarin vertolk het, vir die fees geskryf.
Saterdagoggend is mense na 'n kringgesprek genooi om gedagtes te wissel. Die onderwerp was 'Ek het dit gemaak!'
Die fees is Sondagmiddag afgesluit met 'n Middag van Gospel in die Congregational-kerksaal.
Verskeie ondersteunende vertonings het Vrydagaand die hoofaanbieding voorafgegaan. Die Heibi-blaasorkes het die verrigting met hul lewendige musiek geopen. Die komediant, Gareth Swartbooi, het die gehoor met sy Heidelberger innie Kaap-grappe vermaak. Dan was daar die pragtige Latynse danse, uitgevoer deur die elegante paartjie Deavon Abrahams en Thelma van Riversdal. Heidelberg se entrepreneurs het Vrydagaand en Sondagmiddag vir verversings gesorg.
Maar die aand het aan die hoofdis, As'n kind se lag verdwyn, behoort. Dit het die groot euwel onder skoolkinders, naamlik boelie, uitgelig en ouers voor stok gekry oor laksheid om daar te wees om hul kinders te ondersteun. Soos die verskillende lae van die invloed van boelie op kinders die een na die ander terug gevou word, lewer rap-kunstenaar, Lorenzo Gordon kommentaar met die vrae wat hy aan die gemeenskap stel. Sy filosofie van 'ons het 'n toekoms' en 'daar is hoop', kon deurentyd met sy rymklets aan die jeug in die gehoor voorgehou word. Dit was boeiend en treffend en die spel en danse was uit die boonste rakke.
Anneline Hartnick, die aanbieder, Michael Williams met Constance September en Lesleigh Ann Weber verantwoordelik vir die choreografie wil nou probeer om die stuk by die Suid-Oosterfees op die planke te kry.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Kunstefees uit boonste rakke
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'