RIVERSDAL NUUS - "Daar is 'n gesonde verhouding tussen Riversdal se landbougenootskap en die departement van landbou. Ons deel die visie om die landbougemeenskap en vriende van die landbou met relevante en praktiese opleiding te bemagtig," sê AJ van Wyk, 'n komiteelid, wat dié projek saam met twee ander lede, Christiaan Cronjé en Betsie van Noordwyk, koördineer.
Vroeër vandeesmaand het Daleen Turner 'n opleidingskursus namens die departement van landbou, onder leiding van Byron Jacobs en Evon Mayekiso by die skouterrein aangebied.
"Die doel van Riversdal se landbougenootskap is om deur middel van dié kursusse kennis in die landboubedryf terug te ploeg. Die opleiding behels teoretiese en praktiese afdelings, sodat die kursusgangers die ondervinding onmiddellik in die werksomgewing kan toepas."
Die onlangse kursus het op 'n duidelike uiteensetting van werknemers se verantwoordelikhede én regte in die bedryf gefokus. "Daar is baie sterk klem op goeie kommunikasie en verhouding tussen werkgewer en werknemer gelê."
Dié kursus is deur 35 arbeiders van die omgewing bygewoon en elkeen is met 'n sertifikaat beloon.
Van Wyk sê almal het opnuut besef dat die werkgewer en die werknemer net op hul regte geregtig is, mits almal aanspreeklikheid vir hul optrede neem. "Om dié doelwit te bereik, is goeie kommunikasie en gesonde verhoudinge in die werkplek van ontskatbare belang."
Die plan is om minstens een kursus elke kwartaal aan te bied. Tussen die kursusse wat vir die res van die jaar beplan word, is meganiese, sweis- en noodhulpkursusse.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'