ALBERTINIA NUUS - Die talentsoektog vir jongmense wat hier aangebied is, het 'n groot verskeidenheid sangers, dansers, akteurs en digters gelok en die organiseerders se stoutste verwagtinge oortref.
Dié geleentheid het die ideale platform gebied aan die dorp se jongmense om hul ontluikende talent aan die inwoners van Albertinia ten toon te stel.
Die meeste inskrywings is deur leerders van Hoërskool Albertinia ontvang.
Die presteerders is onlangs tydens 'n spoggeleentheid met sertifikate beloon. Daar is ook 'n paar spesiale sertifikate vir uitsonderlike optredes aan die gr. 6-leerder Amy Manho (sangitem) sowel as Fransiska de Haast, 'n gr. 9-leerder en digter, toegeken.
Dan het die uitstaande dramagroep van Hoërskool Albertinia, onder leiding van twee matriek-leerders, Branville Saayman en Elzaan de Haast, 'n sertifikaat vir die beste optrede ontvang. Hulle is ook as die gemeenskap se gunstelingvertoning aangewys ná hul puik toneelspel wat die gehoor aangegryp het.
Dié mooi geleentheid, wat deur die Albertinia Rising Stars, 'n gemeenskapsjeugorganisasie gereël is, het een ding bewys: Albertinia hét talent.
Die Albertinia Rising Stars fokus daarop om die jeug van Albertinia in die verskillende fasette van hulle lewens te ontwikkel.
Hoërskool Albertinia se dramagroep is van links: Crushlin Kwezi, Branville Saayman, Nakeeta Taute, Fatima Osman, Airinique Prins, Elzaan de Haast, Bernicia Davids, Tracy-Lee Delport, Zanae Terblanche en Caitlyn Mathee.
Elzaan de Haast was die geleentheidspreker en het die gaste in trane gehad met haar merk-waardige storie van hoop.