HESSEQUA NUUS - Die gemeenskap speel 'n belangrike rol in hul eie beveiliging, maar die taak word vergemaklik met AfriForum se veiligheidstrukture.
Dit was die boodskap van Johan Crous, veiligheidsbeampte vir dié burgerregte-organisasie se Hessequa-tak tydens 'n gemeenskapsvergadering van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) op Maandag 4 Februarie.
Voor die vergadering, wat die organisasie op uitnodiging van die GPF bygewoon het, het dié tak hul nuwe bakkiesakkie aan die gemeenskap bekendgestel.
Die bakkiesakkie bestaan uit 'n watertenk met 'n beperkte inhoudsmaat en 'n pomp en word vir brandbestryding aangewend. Die pomp kan ook aan 'n eksterne waterbron, soos 'n dam, gekoppel word.
"Ons het reeds bewys dat ons oor die wil en dryfkrag beskik om die hele gemeenskap suksesvol en met trots te dien," het Arno Greyling, die organisasie se distrikskoördineerder in die Suid-Kaap, gesê.
Hy het ook al die rolspelers, insluitend die polisie en die plaaslike regering, vir die goeie gees van samewerking bedank.
Evert Bouwer en Kosie Sauermann van AfriForum stel die bakkiesakkie bekend wat vir brandbestryding in die omgewing van Albertinia en Gouritsmond gebruik word.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'