HESSEQUA NUUS - Johan Crous is tot AfriForum Hessekwa-tak se nuwe voorsitter verkies. Hy sal deur ds Jan Heenop as ondervoorsitter bygestaan word.
Die verkiesing van die nuwe bestuur het op Dinsdag, 20 Oktober plaasgevind.
Crous het gesê hy is opgewonde oor die nuwe bestuur wat oor die potensiaal beskik om AfriForum na hoër hoogtes te neem.
Volgens hom het die vorige bestuur die grondslag vir hom en sy span gelê om hul lede na die beste van hul vermoë te dien.
AfriForum se distrikskoördineerder vir die suidelike bedieningsgebied, Arno Greyling het die nuwe bestuur sterkte toegewens en soos Crous, die vorige bestuur vir hul toewyding en harde werk bedank.
Die nuwe bestuur is Crous, Heenop, Anette Steyn (plaaslike regering), Anthea Nell (bemarking en sosiale media), Johan Wessels (veiligheid) en Greyling. Heenop sal ook verantwoordelik vir die jeug se betrokkenheid by AfriForum wees.
Volgens Crous was dit 'n moeilike jaar, maar tog het die tak baie goed gevaar. "Daar is deurgaans monitering wat op grondvlak bestuur word en ons wil graag met diegene wat soos ons dink en diesefde ideale het, saamwerk en nuwe bande smee. Instansies en organisasies word genooi om met ons kontak te maak om sodoende ons stem duidelik te laat hoor."
Veiligheid eerste
Ten opsigte van gemeenskapsveiligheid sê Crous sterk veiligheidsstrukture in samewerking met die polisie maak reeds deel van AfriForum se suksesse uit. "Ons het sterk buurt- en plaaswagstrukture, gevestigde radiosisteme en 'n 24 uur nasionale radiokommunikasiestelsel in plek. So bly ons landwyd in verbinding met die 152 geregistreerde buurtwagte."
Hy sê AfriForum Hessekwa maak van gevorderde tegnologie gebruik om ten alle tye op hoogte van tegnieke te bly om misdaad te bestry. Hierdie tegnologie sluit in gevorderde kamerasisteme en geslote kringtelevisie-kameras is ook in die pyplyn. "Die kamerastelsels word vanuit ons eie beheerkamer in Riversdal gemonitor en sal eersdaags na die landelike gebiede uitgebrei word."
Hulle beskik ook oor hommeltuig tegnologie. Crous sê die tak se lede kry in verskeie dissiplines opleiding. Onder leiding van Heenop word op verskeie gebiede in die jeug belê. Dit sluit in kampe en opleiding om die jeug hul plek in die samelewing vol te staan.
Behalwe vir veiligheid is omgewingsake ook vir hulle belangrik. Dit sluit in die plant van bome, oudit op vullisterreine en drinkwater se gehalte evaluering.
"Ons het 'n goeie munisipaliteit en ook baie goeie samewerking. Dit is egter noodsaaklik dat ons steeds die munisipaliteit se bedrywighede monitor en betrokke bly by omgewingsbestuur."
Volgens Crous is AfriForum 'n gerekende organisasie en met 26 000 lede die grootste burgerregte waghond in die gemeenskap se diens.
Hy sê 'n algemene takjaarvergadering sal vroeg in 2021 belê word om die pad vorentoe te bespreek.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'