RIVERSDAL NUUS - AfriForum se Goukou-plaaswag wat deel vorm van die burgerregte organisasie se Hessequa-takstruktuur, het Donderdag 6 September opleiding ontvang oor regsaspekte wat op patrollies van toepassing is.
Dié gratis opleidingsessie is aangebied deur Thomas van Dalen, AfriForum se opleidingsbestuurder by gemeenskapsveiligheid. Meer as 80 lede van die gemeenskap het dit bygewoon.
"Dit is belangrik dat buurt- en plaaswaglede kennis dra van wat hulle volgens wet mag en nie mag doen nie, sodat hulle altyd binne die raamwerk van die reg optree. Ons moedig gemeenskappe aan om proaktief te wees en by veiligheidstrukture soos AfriForum se buurt- en plaaswagte betrokke te raak," sê Johan Crous, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Hessequa-tak. Volgens Van Dalen fokus AfriForum tans sterk op veiligheid.
"Dit is vir ons belangrik dat gemeenskappe opgelei word sodat hulle hulself met die bystand van AfriForum kan beveilig," sê Van Dalen.
Raak by AfriForum se buurt- en plaaswagte betrokke: SMS 'Veiligheid' na 45351 (R1).
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'