SUID-KAAP NUUS - Julie-maand in Suid-Afrika staan bekend as Nelson Mandela-maand.
Op 18 Julie herdenk Suid-Afrikaners nie net Madiba se verjaarsdag nie, maar ook sy nalatenskap. In sy tydperk as staatshoof van die Republiek van Suid-Afrika tussen 1994 en 1999, was Nelson Mandela geliefd by vele. Hy is wyd geloof vir sy leiding in versoening, verdraagsaamheid en burgerlike samewerking oor die bevolkingspektrum heen om 'n vreedsame demokrasie te skep. Sy dood op 5 Desember 2005 het wêreldwye reaksie ontlok.
Elke jaar op 18 Julie word elkeen wat Mandela se nalatenskap waardeer en koester, gevra om 67 minute af te staan om iets goeds vir iemand met woord of gebaar te doen.
Hoekom 67 minute? Dis die aantal jare wat Madiba die stryd teen onderdrukking aangevoer het. Jou 67 minute van omgee wys waardering vir die staatsman wat nie net by sy eie mense agting en respek afgedwing het nie, maar ook by die wêreld se staatshoofde.
In skole kan kinders byvoorbeeld plakkate met 'n Madiba-boodskap maak wat later êrens in die skool of biblioteek uitgestal kan word. Groepies kinders van 'n klas kan by oues van dae in die gemeenskap wat alleen bly, inloer, die plek aan die kant maak en die oues gerieflik maak. Instansies soos kerke kan kospakkies aan huishoudings waar die broodwinners nie werk het nie, beskikbaar stel. 'n Besoek hier en 'n bemoedigende boodskap daar is genoeg om 'n terneergedrukte persoon te laat voel dat iemand omgee.
Grootmense en kinders uit verskillende vlakke van die samelewing kom een keer per jaar na vore om net 'n uur en 'n paar minute se goedhartigheid, welwillendheid en omgee in die siekes, behoeftiges en agtergeblewenes te belê. In Madiba se woorde: "Dis nou in julle hande."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'