RIVERSDAL NUUS - Sias (86) en Nancy (83) Pretorius van Langezicht, Riversdal het op 11 April hul 64ste huweliksherdenking gevier.
Na jare se verblyf in Barkly-Wes in die Noord-Kaap het hulle nege jaar gelede na Riversdal verhuis.
Beide was vir jare, tot hul aftrede betrokke by die departement van mineraal en energiesake.
Sias en Nancy is nog aktief en heeltemal onafhanklik en baie lief om in die tuin rond te krap. Hulle is twee besondere mense.
Sias is 'n regte plaatjie en beide se hande staan vir niks verkeerd nie. Vriende weet, hulle deur is altyd oop vir 'n koppie tee en iets te eet daarby.
Jy sal selde 'n koppie tee sonder 'n eetdingetjie daar kry. 'n Pa, ma, ouma, oupa, oumagrootjie en oupagrootjie wie se lewe die liefde van die Here uitstraal en oorloop van omgee vir ander. Mag die Here julle ryklik seën en nog lank vir mekaar spaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’