HESSQUA NUUS - Die opgradering van twee sportstadions in die Hessequa-streek behoort teen die einde van Augustus oorhandig te word.
Die werk aan beide Melkhoutfontein en Slangrivier se stadions is bykans voltooi, wat beteken dat al die dorpe in die streek met 'n rugbyklub, nou oor ordentlike fasiliteite by hulle sportgronde spog.
Volgens die uitvoerende burgemeester van Hessequa, Grant Riddles, ook die voorsitter van Seagulls-rugbyklub van Melkhoutfontein sal dit nie net tot voordeel wees van rugby nie, maar krieket, sokker, netbal, skolesport en selfs kore sal daarby baat vind.
Oor die toestand van die speeloppervlak wat redelik uitgery is, het hy gesê dat ondergrondse besproeiing ook aangebring is en die kontrakteurs beweeg nog met hulle swaar voertuie oor die veld. Sodra al die werk afgehandel is, sal die speelveld op standaard gebring word.
Riddles het gesê dat die stadion 'n jarelange droom is wat bewaarheid word.
"Die gemeenskap leef vir rugby en die spelers presteer baie beter as hulle voor hulle ondersteuners speel. Selfs wanneer dit reën, sal toeskouers steeds die wedstryde kan bywoon en die kleedkamers is 'n groot voordeel."
Wat wedstryde betref, sal die gemeenskap heel moontlik tot volgende jaar moet wag omdat ondersteuners nog nie by wedstryde toegelaat word nie.
Die SWD rugbyvoetbalunie het die liga opgeskort tot toeskouers wedstryde mag bywoon.
Klubs is afhanklik van die hekgeld om te kan funksioneer, aangesien borge skaars is. Klubs mag egter oefen indien hulle al die nodige regulasies en voorsorgmaatreëls nakom.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'