Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Matla A Bana, wat 'krag van die kinders' beteken, bereik meer as 30 000 kinders per jaar.
Twintig jaar gelede het Monique Strydom uit die kloue van 'n Al Qaeda-sel in die Filippyne ontsnap na sy saam met haar man, Callie, en ander mense vier maande lank gyselaar gehou is. "Ek het elke dag met die vrees van verkragting saamgeleef," het sy Vrydag 6 Maart vertel toe sy en haar span van 11 mense op Riversdal aangedoen het.
"Ek het uit dankbaarheid vir ons oorlewing onderneem om iets vir my medemens te doen. Die Here het my geroep om met kinderslagoffers van seksuele geweld te werk."
Matla A Bana het 18 jaar gelede tot stand gekom na sy in 2002 gevra is om voorsitter van 'n taakspan wat kinderverkragting ondersoek, op te tree. Die organisasie sonder 'n winsoogmerk werk nou saam met die polisie se kinderbeskermingseenheid om veral die sekondêre mishandeling na aanmelding van seksuele misbruik ervaar, te verminder.
Kyk 'n video hieronder:
"In Suid-Afrika word 'n kind van so jonk soos drie tot 12 jaar oud elke drie minute verkrag en in 90% van die gevalle word dit gedoen deur iemand wat bekend is aan die kind."
Die span onderneem die afgelope agt jaar 'n landwye Extremeforkids-fietstoer wat vanjaar op 26 Februarie uit Krugersdorp in Gauteng vertrek en op 7 Maart in Durbanville in Kaapstad aangekom het.
Oral op die plattelandse dorpe langs die roete voer Strydom en twee helpers verskillende kort toneelstukke op wat daarop gerig is om leerders van gr. 3 tot 7 bewus te maak van die gevare van seksuele misdrywe en hoe om hulself daarteen te beskerm. Tydens dié toer het hulle 7 500 leerders bereik. "Aanvanklik sou ons net 16 laerskole besoek het, maar soos skole van ons hoor, nooi hulle ons om die boodskap ook aan hul leerders oor te dra."
Sewe fietsryers, wat vanjaar sakemanne en drie polisielede van oor in die land insluit, het altesaam 1 914 km afgelê en aan die Kaapstad-fietstoer deelgeneem.
"Matla A Bana is nasionaal aktief," sê Lizel van Eeden wat saam met 'n assistent logistieke reëlings hanteer.
Lees meer op die webtuiste by www.matlaabana.co.za.
Die Extremeforkids-fietsryspan kom in Riversdal aan. Foto's: Tisha Steyn
Monique Strydom
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'