RIVERSDAL NUUS – Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit ontplooi grondspanne om die veldbrand, wat gister in die omgewing van die Korentervierdam ontstaan het, in samewerking met die Hessequa-munisipaliteit, heeltemal te blus.
Die veldbrand het gister, 1 Januarie, omstreeks halfvier die middag langs die Korenterivierpad ontstaan en van suid na noord versprei.
'n Grasdakstruktuur is bedreig en die vuur het 'n bedreiging vir verskeie ander geboue ingehou.
Vinnige ontplooiing van lugbrandbestrydingshulpbronne, 'n opsporingvliegtuig, helikopter en waterdraer - gekoördineer deur die provinsiale rampbestuursentrum en brand- en reddingsdienste - het gehelp om die brand betyds te beheer, strukture te beveilig en die hoofaar van die brand te stuit.
Teen gister laataand is die kritieke gebiede beveilig en die vuur is omtrent heeltemal geblus.
Die opruimingoperasie is vroeg vanoggend hervat. “Ons plaas nou grondspanne op die onderskeie lyne in die veld om die vuur heeltemal te blus. Ons vertrou dit sal 'n windstildag wees, sodat die vuur nie weer opvlam en weghol nie,” sê raadslid Betsie van Noordwyk.
Hessequa is die afgelope vakansietyd deur 'n vlaag verwoede brande geteister en die feesgees in Stilbaai, Melkhoutfontein en Jongensfontein is effens gedemp.
Maar danksy die flink optrede van die opgeleide en toegewyde lug- en grondspanne is alles moontlik gedoen om skade aan strukture te beperk en menseverlies te voorkom.
Van Noordwyk sê sy is oorbluf deur die gemeenskap se geduld, betrokkenheid en uitreik na mekaar tydens die talle rampe die afgelope tyd. “Mense het ruim bygedra met skenkings om die ongemaklike, soms lewensbedreigende oomblikke, vir die bandbestreiders, ondersteunerspanne, reddingspanne en moontlike slagoffers te vergemaklik. Daar was genoeg, water, koeldrank en etes vir almal. Inwoners, brandweer, bosbou, landbouers, die polisie, die verkeersafdeling en verskeie departemente van die munisipaliteit - onder meer tegniese dienste, infrastruktuur en elektrisiteit – het onverpoosd saamgewerk om ons dorpe en ons mense se veiligheid te beskerm.”
'n Paar druppels reën bring lafenis aan raadslid Betsie van Noordwyk (die portefeulje-voorsitter van tegniese dienste), Daniël Dippenaar (die Hessequa-munisipaliteit se brandweerhoof) en Greg Clarry ('n paramedikus en reddingstegnikus van die Metro-mediese nooddiens). Hulle het dikwels deurnag tydens brandbestryding-operasies die afgelope vakansie in Hessequa gewerk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’