Video
STILBAAI NUUS - Kyle Lubbe, net 12 jaar oud, het op tweede Kersdag, 26 Desember, ‘n massiewe 14kg-kabeljou uit die Goukourivier in Stilbaai getrek.
Kyle weeg self maar net 41kg en vertel trots "die vis se kop was groter as my eie kop".
Kyle, wat hierdie jaar na graad 7 gaan, kom van Potchefstroom en, hoewel hy graag in sy tuisdorp lyn natmaak, is dit maar die tweede keer dat hy by die see visvang en die eerste keer dat hy so ‘n groot vis vang.
Hy het die aand saam met 'n paar ooms gaan visvang en omstreeks 20:00 het die vis gebyt.
Kyle het dadelik geweet dit is ‘n grote. Oor hoe hy dit reggekry het, sê hy "dit het net gebeur".
"Ek het 'n klein hoek en sinker gebruik en my aas was gewone pompprawn. Dit het net 10 minute geneem om die vis in te katrol, maar omdat die vis swaar was en baklei het, het my arms moeg geword. Een van die ooms moes my vashou sodat die vis my nie in die water intrek nie!"
Hier kan duidelik gesien word dat die hoek nie bedoel was vir 'n 14kg knewel nie!
Kyle Lubbe sê die vis se kop was groter as sy eie kop.
Die nuus het vinnig versprei en in ‘n ommesientjie was daar ‘n skare van meer as 40 mense. Kyle het sy oupa, Stephen Collins, gevra of hy dink dat hy wat Kyle is, "nou famous is".
Collins, wat vir Kyle leer visvang het, sê gelukkig het die klein hoek nie losgekom nie, en die kabeljou het die volgende aand gesorg vir ‘n feesmaal vir 18 lede van hul uitgebreide familie.
Welgedaan Kyle - jy mag nou maar nes jou vis ook grootkop kry!
Video verskaf:
Kyle Lubbe en medevisser Richard Strydom kort na Kyle die vis uitgetrek het.
Die Goukourivier in Stilbaai waar Kyle Lubbe die vis gevang het. Hy het aan die oostekant van die rivier reg voor die wit huis met die spitsdakke gestaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’