STILBAAI NUUS - Die Gouritz-groepsbiosfeer-reservaat (GCBR), saam met CapeNature en lede van Stilbaai U3A, bied van 9 tot 13 Maart 'n mariene bewusmakingsweek aan met verskillende aktiwiteite om bewusmaking van die Stilbaai mariene beskermde gebied te kweek.
Dit sluit die ekologiese belangrikheid, potensiële bedreigings en bewaringsaksies van die gebied in.
Die week het Maandag 9 Maart afgeskop met 'n iNaturalist-opleidingsessie in Die Kliphuis by Tuin-Op-Die-Brak, aangebied deur Jolandie Buck van die GCBR.
iNaturalist is 'n gratis toepassing en webwerf waar mense foto's van plante, diere, fungi, en ander organismes in die natuur kan oplaai.
Dit kan deur die publiek, omgewingsbewaarders en wetenskaplikes gebruik word om spesies te identifiseer en biodiversiteit regoor die wêreld te monitor.
Die toepassing kan gratis op jou selfoon en/of rekenaar afgelaai word, en jy hoef nooit weer met 'n dik naslaanboek rond te stap nie. Al die inligting wat jy nodig het, is net 'n klik ver.
Vir enige navrae kan 'n e-pos gestuur word aan dr. Wilhelm de Beer by [email protected] of Jolandie Buck by [email protected].
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’