BEWARINGSNUUS - Die bekende Agulhas Erfenisvereniging en die Suidpunt Bewaringsvereniging word eersdaags een.
Die voorsitter van die erfenisvereniging, Danie Schutte, sê die samesmelting maak sin, aangesien talle van hul doelstellings en aktiwiteite oorvleuel.
Beide liggame se kernfokus is bewaring - die bewaringsvereniging het die klem laat val op die Suidpunt se unieke fauna en flora, veral fynbos, terwyl die erfenisvereniging bekend is vir hul uitgelese gassprekers.
Op ‘n informele vlak was daar reeds ‘n wisselwerking tussen die twee liggame.
Nico Fourie, komiteelid van die bewaringsvereniging, sê hul lede het hul 'n mandaat gegee om te onderhandel oor eenwording. "Dit het net eenvoudig sin gemaak," sê Fourie.
"Inwoners is lede van beide organisasies en sal in die toekoms dubbele lidmaatskapgelde vermy."
Die onderskeie voorsitters is toevallig beide oud-Natallers.
Ds. Kobus Pretorius - wat amptelik die ondervoorsitter van die bewaringsvereniging was, aangesien daar nie ‘n verkose voorsitter was nie - is ‘n afgetrede NG Kerk-predikant wat steeds deeltyds in die bediening staan.
Pretorius is ‘n direkte afstammeling van die Boere-aanvoerder by die Slag van Bloedrivier, Andries Pretorius, en is gemoeid met die nalatenskap van die Voortrekkers in Natal.
Hy was die afgelope paar jaar by die Riviersonderend-gemeente betrokke.
Die voorsitter van die erfenisvereniging, Danie Schutte, was van 1993 tot 1994 minister van binnelandse sake en dien tans op die plaaslike NG Kerkraad.
Met die help van sekretaresse Emmerentia de Kock, het Schutte hard gewerk om die ou Heemhuis in L’Agulhas weer te laat blom.
Schutte het intussen ‘n gewysigde grondwet saamgestel wat tydens 'n spesiale algemene vergadering op 7 Maart in die NG Kerksaal in Struisbaai bespreek en bekragtig sal word.
Die Agulhas Erfenis- en Bewaringsvereniging het nou 'n ledetal van sowat 150 lede en hou op 11 April hul eerste AJV om 'n nuwe bestuur te kies.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’