TUINROETE | KAROO NUUS - Hierdie inligtingstuk is saamgestel deur 'n voormalige inligtingsbeampte, Kobus Heyns, met eerstehandse ervaring en kennis van politieke en sosio-ekonomiese transformasieprosesse op grondvlak.
Dit verduidelik presies hoe plaaslike regering behoort te funksioneer. Met die oog op die verkiesing, word dit as 'n diens aan ons lesers gepubliseer.
Plaaslike regeringsake fokus op die plaaslike regeringsvlak - daardie vlak van regering wat naaste aan die mense gesetel is en ongeveer 278 munisipaliteite in die land behels. Die land is in nege provinsies verdeel en hierdie provinsies is op hul beurt in metro’s, plaaslike en distriksmunisipaliteite verdeel. Hierdie 278 munisipaliteite word dus onder die sambreel van plaaslike regering vervat.
Die uitvoerende en wetgewende gesag van 'n munisipaliteit berus by sy munisipale raad.
'n Munisipale raad bestaan uit:
- 'n Burgemeester wat aan hoof van die raad staan;
- 'n Uitvoerende of burgemeesterskomitee wat gereeld vergader om die werk van die raad te koördineer en aanbevelings aan die raad te maak;
- 'n Speaker wat as voorsitter by raadsvergaderings optree;
- Raadslede moet raadsvergaderings voorberei en bywoon; en
- Komitees, waar 'n paar raadslede vergader om spesifieke kwessies te bespreek.
Raadslede neem besluite namens die munisipaliteit en hou toesig oor die administrasie van die munisipaliteit.'n Munisipaliteit het die reg om op eie inisiatief die plaaslike regeringsaangeleenthede van sy gemeenskap te bestuur, behoudens nasionale en provinsiale wetgewing, soos in die grondwet bepaal.
Die oogmerke van plaaslike regering is:
- om demokratiese en verantwoordingspligtige regering vir plaaslike gemeenskappe te voorsien;
- om te verseker dat dienste op volhoubare wyse aan gemeenskappe verskaf word;
- om maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling te bevorder;
- om 'n veilige en gesonde omgewing te bevorder; en
- om die betrokkenheid van gemeenskappe en gemeenskapsorganisasies in plaaslike regeringsaangeleenthede aan te moedig.
'n Munisipaliteit moet daarna streef om binne sy finansiële en administratiewe vermoë die oogmerke te verwesenlik.
Jou plaaslike regering is vir die volgende dienste verantwoordelik:
- Lewering van elektrisiteit;
- Water vir huishoudelike gebruik;
- Riolering en sanitasie;
- Stormwaterstelsel;
- Vullisverwydering;
- Brandbestryding;
- Munisipale gesondheidsdienste;
- Besluite rondom grondgebruik;
- Munisipale paaie;
- Munisipale openbare vervoer;
- Straathandel;
- Slagpale en varsvoedselmarkte;
- Parke en ontspanningsareas;
- Biblioteke en ander geriewe; en
- Plaaslike toerisme.
Dit is belangrik om te weet dat die verskaffing van laekoste- behuising nie 'n munisipale funksie is nie. Die departement van menslike nedersettings van die nasionale regering is verantwoordelik vir behuising en stedelike ontwikkeling. Die hoofdoel daarvan is die implementering van die grondwetlike mandaat dat "almal die reg het om toegang te hê tot voldoende behuising".
Die departement verskaf tans beperkte fondse aan munisipaliteite om huise te bou.
Munisipale rade het die mag om:
- munisipale regulasies goed te keur;
- begrotings en ontwikkelingsplanne goed te keur;
- die oplê van erf- en ander vorms van belastings;
- die hef van diensgeld vir munisipale dienste insluitend water, elektrisiteit en biblioteke;
- die oplegging van boetes op enige iemand wat munisipale wette of regulasies oortree, insluitend verkeersboetes, rommelstrooiing; die verkryging van lenings vir ontwikkelingsprojekte.
In diens van die gemeenskap
'n Munisipaliteit moet sy administrasie, begrotings en beplanningsprosesse so struktureer en bestuur dat voorrang verleen word aan die basiese behoeftes van die gemeenskap. Maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling van die gemeenskap moet bevorder word en die munisipaliteit moet aan nasionale en provinsiale ontwikkelingsprogramme deelneem.
Munisipaliteit het uitvoerende gesag ten opsigte van die administrasie van plaaslike regeringsaangeleenthede en enige ander aangeleentheid wat deur nasionale of provinsiale wetgewing aan hom opgedra word. Munisipaliteit kan verordeninge uitvaardig en administreer vir die doeltreffende administrasie van die aangeleenthede wat hy die reg het om te administreer.
Die nasionale regering en provinsiale regerings moet deur wetgewende en ander maatreëls munisipaliteite se vermoë om hul eie sake te bestuur, hul bevoegdhede uit te oefen en hul funksies te verrig, steun en versterk.
Hoe kan inwoners aan munisipale prosesse deelneem?
Demokrasie beteken "regering deur die mense". Plaaslike regering speel 'n sleutelrol in die fasilitering van openbare deelname. Stelsels vereis dat munisipaliteite gemeenskappe betrek in besluitnemingsprosesse en om met die gemeenskap te konsulteer en saam te werk. Verantwoordelike burgers is gemeenskapslede wat aktief deelneem aan die besef van hul regte en in die vervulling van hul pligte. Die reg op openbare deelname vereis dat enige openbare administrasie, insluitende munisipaliteite, deelnemende demokrasie op die basis van ingeligte en bemagtigde burgerskap bevorder. Burgers het die reg op deurlopende interaksies met die mense wat hulle verkies het.
Munisipaliteite moet 'n kultuur van gemeenskapsdeelname bevorder deur:
- meganismes, prosesse en prosedures vir gemeenskapsdeelname te skep;
- inligting te verskaf;
- kennisgewing van vergaderings en ander geleenthede;
- die publiek toe te laat om vergaderings by te woon;
- dokumentasie aan die publiek te verskaf; en
- 'n webwerf te skep.
Inwoners het nie net regte nie, maar ook verantwoordelikhede:
- hulle moet die munisipale prosesse nakom;
- munisipale dienste-rekeninge betaal;
- die regte van gemeenskapslede respekteer;
- munisipale personeel op hul eiendom toelaat; en
- munisipale verordeninge gehoorsaam.
Die wykskomitees is 'n belangrike manier vir die publiek om te kommunikeer. As inwoners probeer om te kommunikeer, maar misluk het, kan hulle ook petisies voer en aan vreedsame betogings deelneem.
Wanneer inwoners aanbevelings, voorstellings en ander aanbiedings aan die munisipaliteit doen, het hulle die reg om vinnige antwoorde te ontvang. Deelnemende demokrasie as 'n instrument om die bestuur deur middel van deursigtigheid en aanspreeklikheid te verbeter, is noodsaaklik. Gemeenskappe het die reg om in verkiesings te stem en die samestelling van hul munisipale rade te wysig indien hulle ontevrede is.
Twee soorte raadslede
Daar is twee soorte raadslede in 'n munisipale raad: wyk- en proporsionele raadslede. Alle plaaslike en metropolitaanse munisipaliteite is in wyke ingedeel.
'n Wyksraadslid verteenwoordig 'n spesifieke wyk op die munisipale raad. Die kandidaat wat die meeste stemme in die wyk kry met 'n verkiesing, is die wenner en word dan die wyksraadslid. 'n Wyksraadslid dien as die voorsitter van die betrokke wykskomitee.
Proporsionele raadslede verteenwoordig 'n politieke party op die munisipale raad en word deur middel van die stelsel van “proporsionele verteenwoordiging” verkies. In hierdie stelsel nomineer die politieke party sy kandidate vir die partylys. Die getal stemme wat ’n party ontvang, bepaal die getal kandidate wat ’n politieke party sal hê.
Die pligte van 'n raadslid is:
- om die mense in die munisipaliteit te verteenwoordig en saam te werk met ander raadslede in die beste belang van die gemeenskap.
- om die behoeftes van die gemeenskap aan die munisipale raad en die stadsraad prosesse kommunikeer.
- om vergaderings voor te berei en by te woon.
- om die prestasie van die munisipaliteit te monitor;
- om probleme met die betrokke liggame aan te meld en
- om terugvoering te gee oor die munisipaliteite se prestasie
Raadslede moet die gedragskode volg wat insluit dat inligting nie bekend gemaak word aan mense wat onregverdig daaruit kan baat nie.
Die termyn van 'n munisipale raad is hoogstens vyf jaar, soos deur nasionale wetgewing bepaal. Indien'n munisipale raad ingevolge nasionale wetgewing ontbind word, of wanneer sy termyn verstryk, moet 'n verkiesing gehou word binne 90 dae vanaf die datum waarop die raad ontbind is of sy termyn verstryk het.
Onetiese raadslede pootjie munisipaliteiteSuid-Afrikaanse munisipaliteite is diep in die moeilikheid as gevolg van korrupsie, gebrekkige dienslewering en onstabiele rade. Huishoudings en inwoners voel al baie jare die impak hiervan. Hulle wend hul toenemend tot gewelddadige protesoptredes regoor die land. Daar is toenemende bewyse dat bestuur en mislukkings in dienslewering ook die werking en doeltreffendheid van boerdery en landboubesighede in klein dorpe in die platteland direk beïnvloed.
Oral in Suid-Afrika verkrummel dienslewering weens swak bestuur.
Navorsing bewys dat slegs sowat 53% van munisipale amptenare matriek of 'n hoër kwalifikasie het. Sowat 17% het geen matriek nie. Bestuurders het nie die vaardighede om hul personeel se ontwikkeling optimaal te benut en te bestuur nie.
Aanstellings van mense in poste sonder die toepaslike kwalifikasies blyk die norm te wees, wat gevolglik dienslewering kniehalter. Nepotisme by aanstellings is holrug gery, en munisipale bestuurders probeer hul uiterste bes om hul onvermoë deur tariefverhogings te verbloem. Gemeenskappe het geen idee wat binne 'n munisipaliteit aangaan nie, en trek aan die korste end. Munisipale leierskap bestuur munisipaliteite asof dit hul eie besitting is, ten koste van die mense wat hulle daar gestel het.
Munisipaliteite steier
Daar is ongeveer 278 munisipaliteite in Suid-Afrika. Altesaam 163 munisipaliteite was in finansiële nood, 40 sukkel om basiese dienste te lewer en 102 het begrotings vir 2021/22 aangeneem wat hulle nie kan finansier nie. 'n Groeiende getal versuim ook om inkomste van inwoners en besighede in te vorder vir elektrisiteit, water en eiendomsbelasting. Kiesers moet verantwoordelikheid aanvaar waar munisipale dienste in duie gestort het. Dit is die kiesers wat hierdie onbekwame en oneerlike raadslede verkies het en versuim het om die raadslede betyds tot verantwoording te roep.
Munisipale raadslede kan aanspreeklik gehou word deur:
- Verkiesings - stem vir iemand anders of 'n ander party en stem vir bekwame leiers;
- Party politieke vergaderings;
- Deelnamevergaderings;
- Persoonlike kontak (gesprek);
- Handhawing van die gedragskode;
- Briewe, petisies en media; en
- Vreedsame protes
In Suid-Afrika bepaal die nasionale regering die nasionale ekonomiese ontwikkelingsbeleid en dryf die soektog na beleggings deur sowel plaaslike as internasionale beleggers aan.
Die provinsiale regering speel ook 'n groot rol in die soeke na beleggings en die uitvoering van die beleid en programme van die regering.
Die suksesvolste provinsie is die Wes-Kaap, wat tans die status van die land se tegnologiese spilpunt bereik het. Waar hierdie beleggers in 'n provinsie geleë is, hang af van munisipaliteite, spesifiek hoe goed bestuur en stabiel hulle is.
Stem vir bekwame persone
Kiesers moet stem vir etiese en bekwame raadslede wat werklik die gemeenskap se belange op die hart dra. Raadslede moet ook oor die vermoë beskik om met nasionale en internasionale beleggers te onderhandel om in hul dorpe te investeer.
Beleggers open besighede en nywerhede, bring ontwikkeling en vooruitgang na dorpe, mits munisipaliteite effektief en doeltreffend bestuur en volhoubare dienste gelewer word. Beleggers betaal belasting, verskaf werk en broodnodige vaardigheidsopleiding vind plaas in gemeenskappe.
Dit is noodsaaklik dat die ekonomiese basis van gemeenskappe vergroot.
Demokrasie is in aksie op 1 November 2021, kiesers het die geleentheid om deel te neem aan die landwye munisipale verkiesings. Kiesers en georganiseerde organisasies moet aktief betrokke bly na die verkiesing deur hul verkose raadslede tot verantwoording te roep.
Onstabiele rade wat hul kiesers versaak moet dadelik aanspreeklik gehou word. Die kiesers het die finale sê. Raadslede kry nie 'n blanko tjek om te maak soos hulle wil na hulle verkies is nie. Raadslede wat kort-kort oor die draad spring moet die toestemming van hul kiesers verkry en kan nie teen die wil van die kiesers gaan nie.
U stem bly geheim. Stem verantwoordelik en stem vir vooruitgang.
ANC-raadslede sing tydens 'n George-raadsvergadering in 2018.
Bronne:
Dr. Harlan Cloete, buitengewone lektor by die Skool vir Publieke Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch se navorsing oor munisipale bestuur.
Hoofstuk 7: Plaaslike Regering (artikels 151-164) wetgewing.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'