STILBAAI NUUS - 'n Gesamentlike operasie in die vroeë oggendure van Dinsdag 18 November in die informele nedersetting, Kanene, by Melkhoutfontein was gemik teen onwettige en ongedokumenteerde immigrante.
Onder leiding van Stilbaai-polisie se stasiebevelvoerder, kapt. HJ van Tonder, was verskeie polisie eenhede soos die seegrens-eenheid, sigbare polisiëring, publieke orde polisiëring, polisie hommeltuig-eenheid, asook Hessequa-munisipaliteit se wetstoepassers en departement van binnelandse sake (immigrasie) personeel ontplooi en het aan die operasie deelgeneem.
'n Totaal van 127 individue se dokumentasie is nagegaan vir egtheid en 69 persele is deursoek. Vyf-en-vyftig arrestasies met betrekking tot persone wat hulle onwettig en ongedokumenteer in Suid-Afrika bevind is tydens die operasie gemaak.
Tydens 'n onlangse gemeenskapsvergadering op 8 November het Van Tonder genoem dat die toename in ongedokumenteerde persone in ons streek 'n groot bron van kommer is. Daar word 'n beroep op die gemeenskap gedoen om nie onwettige immigrante in diens te neem nie. "Gee ons plaaslike mense die voordeel" was sy pleidooi tydens die vergadering.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’