Advertorial
SAKENUUS - Die gewilde Stilbaai Rolbalklub vier vanjaar sy 60ste verjaarsdag en ‘n paar luisterryke geleenthede word beplan vir die week van 9 Junie.
Feesvieringe sluit in ‘n 60’s-tema pretdag, ‘n verjaardagparty vir lede en oud-lede waar die verjaardagkoek gesny gaan word en ’n funksie om die borge te bedank vir hul ondersteuning.
Die feesweek sluit af op Saterdag 14 Junie met die jaarlikse prestige Presidentsdag-toernooi waarin plaaslike en besoekende spanne sal speel.
Die klub is in Februarie 1965 gestig en daar is met die plaaslike munisipaliteit onderhandel vir ‘n langtermyn huurooreenkoms van openbare grond waarop die klubhuis en baan gebou kon word.
In Desember 1966 is die klubhuis en een volgrootte baan amptelik in gebruik geneem met ‘n toernooi waaraan 25 spelers deelgeneem het.
In die 60's
Die ledetal het vinnig gegroei en in 1978 is die klubhuis vergroot. Rolbal word al hoe gewilder, die ledetal bly groei en in die laat 1980’s word addissionele grond bekom en ‘n tweede volgrootte baan aangelê.
Die klubhuis word ook vergroot tot die huidige fasiliteit. Toestemming is verkry om ‘n kroeg te open en uiteindelik kon lede meer as net tee en koffie geniet!
Die tweede baan word ingewy in April 1987 met ‘n toernooi waaraan 20 spanne van regoor die distrik, deelneem.
Gedurende die laaste paar jaar is aansienlike investering gedoen om die fasiliteite op te gradeer en spog die klub vandag met bane van hoogstaande gehalte.
Die klub het tans 123 aktiewe lede onder die bekwame en besielende leierskap van Dup van Renen en sy bestuurspan.
Dup van Renen
Cheryl Worth
Die klub is geseënd met ‘n sake-omgewing waar talle besighede toegetree het om verskeie toernooie en geleenthede te borg. Die klub bedank Personal Trust, hoofborg vir meer as 20 jaar, asook al die ander borge vir hul volgehoue ondersteuning.
Die klub bied kompetisies vir lede asook verskeie toernooie deur die jaar aan waaraan klubs vanuit die streek deelneem: ‘n Manne- en Vrouedag, prestige Presidentsdag en natuurlik die Stilbaai Classic wat oor twee dae plaasvind.
Verder is daar die gewilde Aksie Rolballiga wat twee keer per jaar vir die Stilbaai sakegemeenskap aangebied word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’