STILBAAI NUUS - Nie eens beurtkrag kon 'n demper op die geesdrif plaas tydens die plaaslike sakekamer se algemene jaarvergadering Dinsdagaand, 24 Mei, by die gholfklub nie.
Dit was duidelik dat dié sakekamer 'n baie belangrike rol in byna elke opsig speel. Met die intrapslag het die voorsitter, Rachel Wall, die opmerking gemaak dat môre binne die vier mure van 'n skool gehuisves word.
"Net so kan ons sê dat binne die klubhuis se vier mure Stilbaai se toekoms vanaand gehuisves word."
Die sakekamer se bestaansrede en visie is om 'n invloedryke en gerespekteerde organisasie te wees wat inspireer en 'n omgewing vir besighede skep om in te floreer.
Dat hulle hierin slaag kan gesien word deurdat hulle al 'n tweede keer die gesogte AHI-toekenning ontvang het as sakekamer van die jaar. Ander sakekamers in die Wes-Kaap nooi hulle gereeld om hulle lede toe te spreek. Stilbaai-sakekamer is ook die inisieerder en leier in die stigting van die Hessequa-sakeforum.
Die sakekamer het 20% in lidmaatskap gegroei en 18% in ledefooie. Dit verteenwoordig 'n groei in nuwe lede, maar ook kansellasies as gevolg van Covid-19. Suksesse is met 14 lede se sakekwessies behaal en hulle het ook direk by die Brugmark betrokke geraak.
Die goeie verhouding tussen die sakekamer en Hessequa-munisipaliteit strek tot voordeel van alle sakelui. Al die lede van die uitvoerende burgemeesterskomitee en die speaker van die raad, Andrew Stroebel, het die vergadering bygewoon.
Die uitdagings vir Stilbaai is baie belangrik. Die vraag is of dit 'n vakansie- of 'n aftreedorp is, of 'n sekondêre dienssentrum met verskeidenheid van funksies, of 'n hoof kusontwikkelingsone - of dalk 'n kombinasie van almal?
Die uitdagings is die toename in migrasie, hoë eiendomspryse kan lei tot die uitsluiting van die middelklas, 'n toenemende druk op waterbronne, die bewaring van natuurlike ekosisteme en biodiversiteit, die beperking van patroon van laedigtheid stedelike uitbreiding, die beskerming van die kenmerke binne die stedelike grens wat bydra tot die dorp se 'sin van plek' en dan die bevordering van 'n meer kompakte en doeltreffende stedelike vorm.
Hierdie uitdagings kan aangespreek word deur stedelike ontwikkeling binne die stedelike grens in te perk. Verdigting en intensifisering binne stedelike gebiede moet bevorder en stedelike grense moet geprioriseer word.
Die nuwe bestuur is aangewys en bestaan uit Jacques Hefer, Tertius Haak, Willie Delport, Estee Jansen, Rachel Wall, Johannes van Zyl, Johan Kok, Maarten Roode en Johan Kriel. Die nuwe voorsitter, ondervoorsitter, sekretaris en tesourier word op 14 Junie gekies.
Lees die volledige berig op ons webtuiste by www.suidkaapforum.com
Foto: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'