Advertorial Gallery Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO'S - Op 17 Maart is daar opnuut 'n nuwe hoofstuk ingelui in Rauch Gertenbach Prokureurs se ryk geskiedenis toe sowat 200 gaste saam met hulle deelgeneem het aan hul eeufeesvieringe.
Die spoggeleentheid is as 'n skemerkelkie by Salt & Copper aangebied.
Die firma het op 1 Maart vanjaar 100 jaar oud geword. Dit is in 1922 deur die bekende JJ Scholtz gestig. Saam met sy broer, Robbie en dié se seun, Johan, wat later by die firma aangesluit het, het die formidabele Scholtze, 'n groot rol in die geskiedenis van Mosselbaai en omstreke gespeel.
In sy toespraak, het Danie Acker, tans die langsdienende direkteur van die firma, ook verwys na die Scholtze se groot rol in die gemeenskap en spesifiek dat hierdie kenmerk, deur die jare 'n kernwaarde van die firma geword het.
Onder die eregaste tydens die geleentheid was van die Scholtze se nasate, naamlik Dick Scholtz, 'n kleinseun van JJ Scholtz, Ockie Scholtz, een van JJ Scholtz se agterkleinkinders en Lettie Swanepoel, wat 'n kleinkind van Robbie Scholtz is. Chappie Gertenbach, voormalige direkteur wie se naam die firma steeds dra en sy vrou, Marietjie was ook daar.
Acker het verwys na die voorreg om dié besonderse herdenking met kollegas, kliënte en vriende te vier. Hy het ook genoem dat verdere feesvieringe deur die loop van die jaar sal volg.
"Ons vier vanjaar meer as ons 100ste bestaansjaar. Ons vier die lewe, gesondheid, seëninge en die besonderse voorreg om in die Suid-Kaap, spesifiek Mosselbaai te kan woon en werk," het Acker voortborduur. Wat die Suid-Kaap betref het Acker genoem dat effektiewe administrasie en 'n energieke, lewenskragtige sakesektor, veral in Mosselbaai, 'n opgewondenheid oor die toekoms skep.
"Mosselbaai is 'vibrant', vol energie. En dit is hierop wat die firma sy toekomsvooruitsigte van groei bou."
Acker het verwys en ook voorgelees uit die spesiale feeskoerant wat vir die eeuwording saamgestel is.
VIDEO: ‘n Fees der feeste vir Rauch Gertenbach Prokureurs
VIDEO: Rauch Gertenbach 100 jaar - Danie Acker
VIDEO: Rauch Gertenbach 100 jaar - Basson Piek
Hy het spesifiek melding gemaak van JJ Scholtz wat as krygsgevangene na die Anglo-Boereoorlog nie gaan lê het nie, maar 'n suksesvolle loopbaan as prokureur nagejaag het. Die nalatenskap hiervan, is 'n gevestigde regsfirma wat tans met drie kantore in die groter Mosselbaai en een in George spog.
"Die boodskap van JJ Scholtz se verhaal, is dat omstandighede nie bepaal wie en wat jy is nie. Niemand hoef aan 'n permanente slagoffermentaliteit te ly nie."
Acker het aan die hand hiervan verwys na Rauch Gertenbach se dapper besluit, om desnieteenstaande die ekonomiese inkrimping en ander faktore tydens die Covid-19-pandemie in 2020, uit te brei na Danabaai en Hartenbos. Hy het te kenne gegee dat verdere uitbreiding ook in die vooruitsig is.
Rauch Gertenbach bied tans werk aan 60 personeellede, waarvan toegelate 13 prokureurs is.
"Ons missie is om kwaliteit regsverwante dienste aan elke kliënt volgens hulle unieke behoefte te bied. En ons visie, om die verkose verskaffer hiervan in die Suid-Kaap te wees," het Acker verduidelik.
Hy som die firma se besigheidsfilosofie op as passie, professionaliteit, toewyding en spesialisering. Die firma bied ook dienste in alle fasette van die reg.
"Ons waardesisteem is gebou op effektiwiteit en integriteit. Wat ons firma se kultuur betref, gaan dit oor outydse kenmerke soos uitnemendheid en lojaliteit. Die grootste vyand, is middelmatigheid en negatiwiteit."
Wat die toekoms betref, meen Acker dat die resep nie gaan verander nie.
"Ons het ons oog op meer van dieselfde. Die groot verskil is dat ons meer en meer jongmense in hierdie kultuur wil opneem en die geleentheid wil skep vir groei en ontwikkeling."
Ten slotte het Acker genoem dat die Rauch Gertenbach leierskap kies om, die ekonomiese uitdagings in Suid-Afrika ten spyt, 'n positiewe perspektief te behou en met hierdie energie, die toekoms tegemoet te gaan.
Bedryfshoof, Basson Piek saam met vrouekollegas.
Personeel in hulle feesdrag. Foto's: Deon Botes Photography
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'