RIVERSDAL NUUS – Joubert van Wyk, die legendariese entrepreneur, sakeman, boer, familieman en toonaangewer in die gemeenskap, is met ‘n spesiale oorkonde deur Agri-Expo vereer.
Die oorkonde is op Valentynsdag tydens die jaarlikse Groetmekaar-geselligheid op die skouterrein aan hom oorhandig.
Sowat 270 genooide gaste - borge, donateurs, sakelui en ander vooraanstaande dorpenaars - het blad geskud, aan heerlike vingergeregte gesmul en vrolik saam gekuier.
Joubert se seun, Pieter, die skoupresident, het tydens sy toespraak die motivering vir dié verering voorgelees. "Agri-Expo gee hiermee trots erkenning aan sy besondere bydrae tot en toewyding aan die ledeskoue van Agri-Expo.
Sy passie het die skoubedryf aansienlik bevorder en ‘n blywende nalatenskap vir toekomstige geslagte om op voort te bou agtergelaat. Hy het oor baie jare ‘n onuitwisbare stempel afgedruk op die groei en ontwikkeling van skoue en sy onbaatsugtige diens sal vir baie jare nog deur die skougemeenskap erken word."
Die skou het met ‘n besondere prestasie geopen en dorpenaars en besoekers kan vyf dae lank in dié eg-plattelandse gasvryheid deel.
Dit duur nog tot Sondag 18 Februarie, wanneer ds Wollie Grobler die verrigtinge afsluit met ‘n spesiale erediens in die hoof-arena.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’