ALBERTINIA NUUS - Terwyl talle mense op soek is na sonkragoplossings of alternatiewe kragbronne, sukkel boere in die Hessequa-distrik om met beurtkrag kop bo water te hou.
Een so 'n boer, Daan Witbooi, sê dis 'n opdraande stryd om sy melkery en lande aan die gang te hou en hy weet nie so mooi of hy dit langer sal kan volhou nie.
Sy spilpunt op sy landery is op 36 ure gestel, maar dit neem hom presies vier dae om 'n volle siklus te voltooi. Met beurtkrag wat tot tien uur op 'n dag af is, beweeg die spilpunt skaars 'n tiende van die siklus. Hy sê op die ou end waar dit vier dae vir die spilpunt sou neem, duur dit nou tien tot twaalf dae voor dit 'n volle siklus voltooi.
Elke keer wat die krag afgaan moet Daan agt kilometer ry na sy spilpunt wat hom ekstra diesel kos.
"Ek moet dus elke ryslag 16 km heen en weer ry net om elke twee uur of ná vier uur dit weer te gaan aanskakel. Met die erge hitte kry die lande nie genoeg besproeiing nie en die lusern en superdan lyk uitgehonger of met blare wat hang."
Daan sê dit veroorsaak nog verdere moles by sy melkstal. Hy het 'n tienpuntmelkstal met 600 koeie wat honger is vir weiding. Om die melkmasjien aan die gang te hou, moet die trekker loop wanneer die krag af is. "Vir elke twee uur wat die krag af is, kos dit my 20 liter diesel. Op beurtkrag van vier uur kos dit my 40 liter diesel.
"Eskom vra alreeds 'n astronomiese bedrag vir die krag maandeliks, maar laat die wind selfs 'n bietjie waai of dit reën liggies, dan sit jy nou sonder krag vir minstens twee uur."
Daan het onlangs skade gehad met 'n beurtkragfase wat sonder enige behoorlike kennisgewing verander het. Hy was nie onmiddellik in kennis gestel nie en die kompressor van sy yskas het 'n waaier laat vasbrand en dit het veroorsaak dat die melk nie korrek kon koud word nie. Daan reken Eskom kan hul infrakstuur en kommunikasie opskerp en sodoende die boere help in stede daarvan om hul pogings in die wiele te ry.
"Dit is die boere wat kos en melk voorsien vir die land. Dit is ons wat hierdie land aan die gang hou, maar Eskom begin 'n mens se sak te ruk. Eskom kan boere tegemoet kom," meen Daan.
Maar dis nie net hy wat so voel nie. Talle boere in Hessequa voel ook dat fase 6-beurtkrag hul erg kniehalter. Boere in die distrik raak keelvol en verloor baie meer as net diesel. Hulle verloor ook weiding en produksie en moet dus afskaal omdat Eskom nie hul werk behoorlik kan doen nie.
Die probleem met Eskom gaan nie gou verdwyn nie, maar daar word ook nie dringend aandag gegee aan al die probleme nie. Al wat die boere vra is meer begrip vir hul behoeftes en die groot uitdagings wat beurtkrag nou veroorsaak en dat dit darem wil voorkom of Eskom daaraan aandag wil of kan gee.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'