LANDBOUNUUS - Die bek-en-klouseer-uitbreking in die Gouda-omgewing toon duidelike tekens van suksesvolle inperking, ná drie plase wat verdagte kliniese tekens getoon het onlangs negatief getoets het. Agri Wes-Kaap (AWK) en die Rooivleisprodusente-organisasie Wes-Kaap (RPOWK) het die bevestiging van die Wes-Kaapse Departement van Landbou verwelkom.
Die negatiewe uitslae dui daarop dat die uitbreking steeds beperk is tot die enkele indeksvoerkraal in Gouda - ’n sterk aanduiding dat die gesamentlike ingryping om die siekte te stuit, vrugte afwerp.
Volgens die RPOWK volg die uitslae ná intensiewe veldwerk, monsterneming en streng biosekuriteitsmaatreëls in die kwarantyngebied waar daar sedert 6 November verhoogde waaksaamheid is.
Sedert die eerste positiewe geval aangemeld is, werk AWK, RPOWK en die Departement Landbou se Veeartseny-afdeling hand aan hand aan die operasionele reaksie.
Die fokus is op vroeë identifikasie, streng bewegingsbeheer en die onmiddellike ondersteuning van produsente.
’n Gesamentlike operasionele sentrum deel daagliks data en koördineer reaksie op enige verdagte tekens.
Biosekerheidsprotokolle by vervoermaatskappye, kontrolepunte en op plase is verskerp, terwyl veevervoerders intensief gemonitor word deur die SAPD, Provinsiale Verkeer en munisipale wetstoepassing. Kleinveeboere in die gebied ontvang hulp om vee veilig vir weiding te laat beweeg, en waterpunte is beskikbaar gestel.
Diere van Velddrif het ook negatief getoets, en hoewel Bredasdorp se uitslae nog uitstaande is, is geen kliniese tekens daar waargeneem nie. Geen nuwe gevalle is sedert 14 November op die indeksplaas gevind nie - nóg ’n positiewe aanduiding dat die verspreiding gestuit is.
AWK en RPOWK sê die suksesvolle inperking wys dat biosekuriteit, samewerking en vinnige optrede krities is.
“Die negatiewe toetsuitslae, die afwesigheid van verdere verspreiding en die sterk gesamentlike reaksie is duidelike tekens dat ons pogings werk. Ons bly verbind tot die beskerming van die provinsie se rooivleisbedryf totdat die situasie volledig onder beheer is.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’