HESSEQUA NUUS EN VIDEO - Die jaarlikse Suid-Kaap Jerseyklub-kuddekompetisie is nie sommer net 'n gewone skoonheidskompetisie onder koeie nie, dit is 'n soort skoonheid wat sy pluspunte vanuit 'n ander hoek verdien.
Hoewel mens sou dink jy moet die koei se mooi oë en pels bewonder, word hoofsaaklik op die agterkant, wat op die uier betrekking het, gefokus.
Johannes en Hanro Uys (pa en seun) het vanjaar die beoordeling van 21 plase in die streek vanaf 18 tot 22 September behartig. Ongeveer 8 900 koeie het deelgeneem, waarvan 10-20% beoordeel is.
Wat hierdie Jerseyklub so besonders maak, is dat dit vir die tweede agtereenvolgende jaar as die beste in die land aangewys is.
Jerseys is bekend vir die vaste stowwe in hul melk (hoë proteïen en bottervet).
Beoordelaars Hanro en Johannes Uys.
Aspekte van die koei se genetika waarna gekyk word
- Die uier moet hoog aangeheg wees, verkieslik bo die koei se hak.
- Spene se vorming, lengte en plasing is baie belangrik.
- Spene moet gelyk onder hang en daarna word verwys as die speenvloer.
- 'n Groot voordeel is as 'n koei diepte het. Dit word vanaf haar rug tot onder haar maag gemeet.
- 'n Groot uier verseker meer melkkapasiteit.
- 'n Goeie ligament tussen die speenkwarte is ook goed (die vou op die uier tussen die spene agter).
- In die geheel moet 'n koei goed gebalanseerd wees.
Na 'n week vol bewondering vir al die mooi koeie is die prysuitdeling op Vrydag 22 September by Kweekkraal gehou.
Pieter, Natasha, Kosie en Julie van Deventer van Doornvlei Jerseys het hierdie jaar met die meeste pryse weggestap.
Kyk 'n video hieronder:
Hulle wen beste eerste en tweede laktasie groep, beste derde laktasie koei, algehele beste uier, algehele beste koei en algehele beste kudde.
Die koei wat hulle die meeste pryse besorg het, was hulle derde laktasie koei, T-bone Jenator 13013. Hul pa, Kobus boer reeds sedert 1960 en het met slegs 80 koeie begin.
Vandag het hulle kudde tot 'n duisend gegroei.
Deon Gerber van Jireh Jerseys by die beste tweede laktasie koei.
Volgens Pieter was daar meer inskrywings vanjaar. "Dit was die beste kompetisie en die vlak van die kuddes wat inskryf is al hoër."
Baie boere het vir die eerste keer deelgeneem en sy raad is dat hulle "volhoubaar moet wees in wat hulle doen."
Volgens Ben Coetzee van Hoopvol Jerseys, wat as die beste weidingskudde aangewys is, is die kompetisie vir hom 'n geleentheid om ander boere se Jersey-genetika te sien en so van hulle te leer.
"Dis 'n jaarlikse kompetisie vir my, teen myself om my kudde die beste moontlike vordering te gee. Om vir 'n week tussen mense te beweeg met dieselfde passie en belangstelling is die hoogtepunt."
Die volgende plase het ook erkenning gekry
- Beste bul nageslag groep en eerste laktasie koei: Jonathan Barry van Lismore Jerseys.
- Beste ou koei groep en beste drie generasie groep: Garth Hume van Bakenskop Jerseys.
- Algehele beste ou koei en derde laktasie groep: Altus Brooks van Solderskraal Jerseys.
- Kudde met die beste vordering: JG Dunn van Fairview Jerseys.
- Beste tweede laktasie koei: Deon Gerber van Jireh Jerseys.
- Beste Nuweling, laagste bakterieë en somatiese seltelling gemiddeld vir die afgelope jaar: Ettienne Zeeman en Attie Eksteen van Leeurivier Jerseys.
Om hierdie tellings laag te hou moet koeie goed bestuur word.
Pieter van Deventer en vashouer, Collin Michaels by die wenkoei, T-Bone Jenator van Doornvlei .
"Daar moet veral na hul higiëne en gesondheid omgesien word. Dis merkwaardig om enigiets onder 250 000 te kan doen en hy het 102 365 gedoen," het komiteelid Smiley Cronje gesê.
ARTIKEL, VIDEO EN FOTO'S: ALETTA SUTHERLAND, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'