Update
ALBERTINIA NUUS - "Geen kind moet honger gaan slaap nie," is die woorde van past. David Prins van die Christelike Vereniging Sentrum.
Prins en sowat agt van sy gemeentelede het verlede jaar begin met 'n tuin op 'n erf wat die NG Kerk beskikbaar gestel het en begin skoonmaak en plant.
Die uie, aartappels, spinasie, kool en ander groente groei pragtig en word aan behoeftiges uitgedeel na oes.
Theuns Coetzee, bekende sakeman van die dorp en eienaar van Tuinplaas, het 'n petrolaangedrewe ploegie aan die groep geskenk om die erf om te ploeg.
Die manne gebruik ook 'n aangepaste tuinvurk om skoffelwerk te doen en beddings voor te berei vir nuwe plantjies.
"Daar is nog heelwat skoonmaakwerk wat gedoen moet word en 'n 'vinnige paar draaie met 'n trekker sal wonderlik wees om ons 'n hupstoot te gee," sê Koos Pieterse.
"Daar is genoeg water beskikbaar, die grond is van goeie gehalte en geskik vir groente."
Patats en beet is onlangs aangeplant en hulle staan sterk in die grond. Nog meer kan gedoen word om hierdie projek 'n groot sukses te maak.
Indien iemand betrokke wil raak, kontak vir Prins by 082 291 7439 of Pieterse by 082 291 7439.
Hierdie petrolaangedrewe ploegie vergemaklik sake darem heelwat.
Lees 'n vorige artikel: Groentetuin vir behoeftiges vorder
ARTIKEL & FOTO'S: JEFF GIBSON, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'