RIVERSDAL NUUS - Ons almal het geleenthede waarna ons uitsien; mylpale wat in ons lewe bereik word.
Ek het grootgeword met 'n skoutradisie in my huis. As plaaskind was skou die geleentheid wat nie misgeloop moes word nie.
Almal het maande voor die tyd al begin bespiegel wie s'n die mooiste, beste gaan wees, wie gaan met die meeste en beste pryse wegstap. Grootpraat was deel van die gesprekke.
Riversdal-landbougenootskap is vanjaar 150 jaar oud! Vir 150 jaar is skou deel van Riversdal se gemeenskap en steeds 'n geleentheid waarna uitgesien en bespreek word.
In my afgelope 10 jaar as president van die instansie, het ek ondervind hoe 'n gemeenskap kan saamstaan, hoe 'n kosbare tradisie oorgedra word van geslag tot geslag.
Riversdal se gemeenskap is uniek en besonders.
Dankie dat julle die skou laat voortleef vir 150 jaar.
Dis voorwaar 'n trotse gevoel in my hart en ek is dankbaar om deel te wees hiervan.
Die skou bied 'n baie wye verskeidenheid aktiwiteite aan en ons poog daarin om vir elkeen in die gemeenskap 'n item, aktiwiteit of 'n geleentheid te skep waarin hy of sy betrokke kan wees. Sien ons program en merk die geleentheid.
Riversdal-skou is 'n gemeenskaps-projek en kan nie plaasvind sonder die ondersteuning van mense wat bereid is om te help nie.
Dankie aan elkeen wat 'n werk verrig sonder om betaling te ontvang. Jul tyd en moeite word raakgesien en is kosbaar vir ons.
Borge is 'n noodsaaklikheid. Sonder julle kan ons nie! Dankie aan elke borg se betrokkenheid, maak nie saak hoe groot of klein nie. Ons waardeer elke bydrae.
Alle eer aan ons Hemelse Vader. Mag Hy ons ook lei en beskerm tydens 2018 se skou.
Sien die Riversdal Landbouskou-bylaag hier.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'