Khoi moet erfenis beskerm

Lanville Cupido, Swellendam:

Die Hessequa Cape Khoi Council doen 'n beroep op die Hessequa-munisipaliteit om die erfenis van begraafplase te beskerm. Die Khoi- en San-gemeenskappe het 'n nasionale beleid wat die Khoi- en San-erfenis van hul voorouers, insluitend ou grafte uit die 1800's en 1900's, beskerm en bewaar.

Sommige munisipaliteite toon egter geen respek nie, en talle grafte van Khoi-mense word sommer vernietig sonder om met Khoisan-leiers of gemeenskappe daaroor te konsulteer. Klagtes kan by die CRL-kommissie en die Menseregtekommissie ingedien word oor grafte wat beskadig of vernietig word, of wanneer stootskrapers van munisipaliteite daaroor ry en dit onwetend beskadig.

Ons, as die KCKC / Hessequa CKCO, doen 'n beroep op Hessequa-munisipaliteit om saam te werk met die Wes-Kaap Erfenisraad en die Nasionale Erfenisraad. Ons is deel van die nuwe United Cape Khoi Council, in samewerking met die Nasionale Khoi-San Raad.

Beskerm jou erfenis, taal en kultuur in die Hessequa-streek.


Munisipaliteit se reaksie:

Hessequa-munisipaliteit het sy eie afgekondigde verordening insake begraaf-plase en krematoria, wat bepaal dat geen grafte sonder die goedkeuring van die muni-sipaliteit hergebruik mag word nie. 

Die munisipaliteit mag wel begraafplase sluit, maar die sluitingsproses moet op provinsiale vlak goedgekeur word en deur 'n publieke deelnameproses gaan.

Die beskerming van die erfenis van be-graaf-plase word ten volle deur Hessequa-munisipaliteit ondersteun. Vandalisme van grafstene is egter 'n probleem, en die publiek word versoek om enige beskadiging van grafstene en grafte onmiddellik by hul naaste munisipale kantoor aan te meld.