John van Riversdal skryf:
Die berig in die Forum van 9 Augustus ("Inwoners grom kwaai oor hondelisensies") verwys.
Die invordering van gelde om die skut te bedryf of te subsidieer is 'n goeie besigheidsbeginsel en 'n inkomstebron vir die nuwe bestuur, maar ongelukkig is die beoogde begrote inkomste en tariewe vir dierelisensies te hoog en verarm dit mense wat reeds op die broodlyn leef verder en kan dit die realisering van die bedoelde/beoogde resultaat beïnvloed.
Daar is nie verwys na die dienste van 'n permanente hondevanger, 'n voertuig en gepaardgaande koste nie ... Rondloperhonde behoort aan "niemand" nie en sal voltyds gejag moet word.
Spesifikasies/voorskrifte vir mense wat met honde in die dorpsgebied teel, is noodsaaklik.
Fietslisensies - dit is 'n voertuig volgens die padverkeersordonansie - is ook 'n geleentheid vir 'n inkomste asook rolstoel- en elektriese aangedrewe rolstoelhulpmiddele wat soms geniepsig in die pad en op die sypaadjies ry.
Daar lê gereeld op sypaadjies voor huise sand of bakstene. Iewers doen iemand bouwerk.
Is daar 'n goedgekeurde bouplan en is 'n munisipale belastingaanpassing na herwaardering nie regverdigbaar en noodsaaklik nie?
Word hierdie "moontlikheid" ooit opgevolg/ondersoek? Dit is ekstra inkomste.
Ongelukkig sal die plaaslike landdroshof nie hierdie addisionele las, van minder ernstige oortredings, kan hanteer nie. Dit sal betyds uitgeklaar moet word vir alternatiewe beregting.
Jammer vir diereliefhebbers wat die terapeutiese waarde van hul dierekinders elke dag koester.