Cobus Coetzee van Riversdal:
As kontrakteurs is ons werksaam in al die dorpe in die Hessequa-streek en dit is opvallend hoe min respek die skoolkinders vir dissipline, taalgebruik, vir ander mense en vir mekaar het.
Dis skokkend hoe selfs klein kindertjies, van hulle nog nie eens op skool nie, die vieslikste vloekwoorde kan uitryg. Is dit hoe ons jeug, die toekoms van ons land, opgevoed en grootgemaak word?
Is dit die navolgenswaardige voorbeeld wat ons ouers, familie en vriende wil stel?
Ons was verlede week (20 Julie) werksaam in Albertinia op die hoek van die gholfbaan in die hoofstraat toe die leerders van Hoërskool Albertinia uitgekom het.
Daar het groepe skoolkinders van die plaaslike skool verby ons geloop op pad huis toe en groot was ons verbasing oor die ordentlikheid, netheid en goeie gedrag wat die kinders geopenbaar het.
Graag wil ek die opvoeders, onderwysers sowel as die ouers gelukwens met die kinders se gedrag. Dis mos wat mens van goedgemanierde kinders verwag.
En vir die kinders; ek was verstom oor die goeie gedrag. Julle gedrag weerspieël jul goeie opvoeding. Doen so voort … Dis mos 'n navolgenswaardige voorbeeld en dalk steek dit aan by die ander skole in Hessequa.