Bekommerde inwoner van Riversdal skryf:
Die sakebuurt links langs die N2 komende van Heidelberg se kant af lewer 'n positiewe bydrae tot die buurt se ekonomie. Daarby bied dit ook verkwikking aan die moeë reisiger.
Ongelukkig vind rondlopers, leeglêers, booswigte en bedelaars dit 'n baie aanloklike omgewing. Die vermoede bestaan ook dat van dié mense dwelmgebruikers en -afhanklikes is.
Ek glo dat baie reisigers asook inwoners wat die besighede daagliks besoek daarvan kan getuig dat hulle gereeld deur lastige bedelaars oorval word wat net eenvoudig nie "nee" vir 'n antwoord aanvaar nie.
Só word jy ook gereeld na jou huis gevolg deur 'n bedelaar wat aandring op geld. Indien jy nie aan sy of haar versoek voldoen nie, tel hulle klippe op en neem 'n dreigende houding in. En dis nie slegs mans nie. Dikwels ook vroue wat twee-twee rondbeweeg.
Die woonbuurt aanliggend aan die besighede word na my mening en ervaring toenemend geteiken. Veral Van Rensburg-, Simon-, Pauw-, Truter-, De Jager- en Mulderstraat word gereeld geteiken.
Baie van die inwoners is bejaardes waarvan sommige verswak en enkellopend is. By geleentheid word jou deurklokkie onophoudelik in die vroeë oggendure deur van hierdie mense gelui. Bedags gebeur dieselfde. Indien jy nie daaraan gehoor gee nie begin hulle in 'n poging om jou aandag te trek om, sonder toestemming, onkruid in jou tuin uit te trek. Gaan jy na buite dring hulle aan op vergoeding vir hul arbeid sonder dat jy enigsins opdrag daartoe gegee het.
Diefstal vind ook plaas. Gewilde items is metaal- of ystervoorwerpe, soos onder meer 'n ysterpoot vir 'n sambreel op die stoep. Dit word waarskynlik as skroot verkwansel.
Padlopers wat langs die N2 oornag dra by tot 'n gevoel van onveiligheid.