CJ de Swardt van Riversdal skryf:
Danksy die hulp van CARS is my katkinders nou 'n skildery!
Dié Community Animal Rescue Society het vandeesweek inderdaad tot my redding, én die van my katmeisies, gekom.
Met 'n billike donasie was Sandra Lotz en haar span bereid om ons te help.
Ek moes vier katwyfies laat steriliseer. Hoekom? Ek het 'n ruk terug 'n verwaarloosde katjie uit 'n gesloot gered - met die vermoede hy was 'n mannetjie. Ek het hom Poenankies gedoop, want hy was pragtig...
Toe begin hy meteens vet raak en sy maag staan 'n bol... Ek het hom met melkmagnesium en houtskoolpille gedokter... En, toe ek weer hoor, miaau daar vier babatjies tussen die skadunet en sinkdak op my patio: Poenankies, toe nié 'n mannetjie nie, het gekraam! Ek moes hulle tussen net en sink verlos, deur die net oop te sny!
Vier kinders; drie meisies en 'n seun is gebore. Twee is pikswart en twee is gestreep en gekol. Die swartes is Kabouter en Kapoesie gedoop. Die wolkombersies heet Meisie en Meitjie.
Die wyfies is Maandag "gedoen"! Boonop was hulle almal dragtig. Die wyfies is veilig tuis; huilerig, maar gesond!
Poenankies is toe nie mannetjie nie, maar wyfie! Sy het geboorte aan vier katjies geskenk.
Kabouter, die mannetjie, het egter katsegedagtes gekry en twee keer uit die traliehok ontsnap wat CARS voorsien het. Hy het blykbaar gesnuf wat kom en het katvoet gaan wegkruip - en hy spog steeds met sy gereedskap.
'n Bende se naels is glo uit vir die kat wat weggekom het - aldus Snor Gromstert, die raspertong van die skinderpamflet, Miaau!, Dié pamflet word hoofsaaklik in ondergrondse riole deur rotte in die buurt Paddavlei versprei.
Die "katarazzi" gaan hom glo by die steg met hul kameras voorlê om hom vir die agterblad te snêp! Die paalplakkaat is al gereed: "Kabouter se knaters word geknip!"Kapoesie, Meisie en Meitjie is drie van die katjies wat CARS verlede gesteriliseer het. LINKS: Poenankies is toe nie mannetjie nie, maar wyfie! Sy het geboorte aan vier katjies geskenk. Foto's: CJ de Swardt