STILBAAI NUUS - Gepas begin dié skilderagtige kusdorp se vierde boekefees óp Internasionale Moedertaaldag.
Vanoggend het die media-persoonlikheid Ingrid Jones die sjef en skrywer Elmarie Berry oor haar nuutste kosboek, The Table, en Sumien Brink, die voormalige redakteur van leefstyltydskrifte, oor die maak van kosboeke by die Oudewerf-olyfplaas tafel toe gebring, terwyl feesgangers aan 'n heerlike vroeë middagete gesmul het. Al die kaartjies is verkoop; g’n muis sou 'n krieseltjie kaas dáár kon gaps nie...
Die wêreld vier jou eie moedertaal.
UNESCO het die eerste Internasionale Moedertaaldag al in 1999 aangekondig - met die doel om linguistiese diversiteit, veeltalige onderwys en kulturele diversiteit te bevorder.
Dus: erkenning aan en die bewaring van taalregte; veral dié van bedreigde tale.
Dié begeestering spruit uit die Bengaalse taalbeweging wat in 1952 in die destydse Oos-Pakistan begin is.
Sedertdien word vieringsgeleenthede wêreldwyd georganiseer - met taalfeeste, kulturele programme en taalkundige konferensies.
Dit gaan álles oor die die sleutelrol in die bevordering en pleidooi vir taalbehoud, taaldiversiteit en veeltalige onderwys.
Daar word immers oor die 7 000 tale wêreldwyd gepraat. Dit is kommerwekkend, maar volgens UNESCO loop 43% van tale die risiko om in onbruik te raak en te verdwyn.
Afrikaans word óók bedreig. Dit is egter elke moedertaalspreker se plig om sy of haar kulturele erfenis te bewaar!
Dit is presies wat die skrywer, digter, akteur, regisseur en nar Sjaka S. Septembir onder meer met sy opvoedundige hansworsteryproduksie Los uit, Stinkie! - oor gesonde grense - doen. Hy het vanoggend kinders en volwassenes by die Melkhoutfontein Primêr-skoolsaal betower.
Nou skuif die woord-verantwoording na Stilbaai se gemeenskapsaal.
Vanmiddag om 14:00 praat die gevierde fotograaf Obie Oberholzer oor sy nuutste spogboek Going Dutch: Nine towns with Dutch names in South Africa and their namesakes in the Netherlands.
Om 15:00 bespreek prof. Louise Viljoen die bundel Kinderlê (die tweede bundel van Lynthia Julius), ’n vorige wenner van die Jan Rabie Marjorie Wallace-skryfbeurs en nou ’n dosent in skryfkuns aan die Sol Plaatje-universiteit in Kimberley.
Om 16:30 lees die digters Dominique Botha (Donkerberg), Lynthia Julies (Kinderlê) en Danie Marais (Ek en jy bestaan nie) uit hul bundels voor.
En dan: om 18:00 gaan omstrede kwelkwessies die alfabet laat vlamvat!
Die puik ondersoekende TV-aanbieder Waldimar Pelser, 'n voormalige koerantredakteur en deesdae die direkteur van premiumkanale by 'n multimediagroep, lei 'n gesprek oor brandpunte, knelpunte én goeiepunte. Die paneellede is die onafhanklike politieke kommentators Qaanitah Hunter, Dawie Boonzaaier en dr. Piet Croucamp - 'n kernbek wat reguit en prontuit looi, selfs politieke korruptes, burgerlike verkramptes en soortgelyke “heiliges” tot verantwoording roep en aanspreeklikheid van stommerikke eis.
Pelser sê: “Soms help afstand 'n mens om 'n beter perspektief op groot gebeure gekry. Daarom is dit lekker om weer in die mooie Stilbaai te gesels oor die bepalende verwikkelinge in ons politiek.” Hy sê hulle kom dalk aanstaande jaar weer, maar: gaan die regering van nasionale eenheid dan nog regeer?
Die span beloer die R van RSA en vra: waarom jou burgerskap afsweer, landuit vlug en by Donald Trump in Amerika gaan skuil om jou Afrikaanse en/of Afrikaner-wortels te herontdek?
Intussen het die vuur buite kole laat gloei. En nou gaan die vonke verder spat.
Om halfsewe word daar word wors gebraai (met gestoomde uie en tamaties in 'n deegrol gesmoor), slaaie geskep en drankies geskink.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’