Update
STILBAAI NUUS - Weens die wêreldwye Covid-19-pandemie kon die grootse Passiespel nie gedurende 2020 in Oberammergau plaasvind nie.
In 2022 het 'n geraamde 500 000 belangstellendes van dwarsoor die wêreld egter die besondere vyfuur lange vertoning bygewoon. Kaartjies se koste het gewissel van 30 tot 180 euro's (R552 tot R3 312).
Dit gebeur nie aldag dat 'n klein gemeenskap 'n projek so groots soos die Passiespel aanpak en na die gemeenskap bring nie. 'n Groep Stilbaaiers het dit egter in 2019 met groot sukses opgevoer.
Alhoewel twee vertonings beplan is, het kaartjieverkope dit genoodsaak om 'n addisionele vertoning aan te bied. Die gemeenskapsaal in die dorp was vir drie aande volgepak en het groot applous en waardering ontlok.
Reeds aan die einde van 2021 is daar begin met beplanning vir die volgende Stilbaai Passiespel wat op 31 Maart, asook 1 en 2 April, weer in die plaaslike gemeenskapsaal opgevoer sal word.
'n Verrykte teks en uitsonderlike musiek beloof om weereens die grootsheid van die Paasgebeure kragtig oor te dra.
Alhoewel die voorbereiding en oefening reeds in gevorderde stadium is, is daar tog nog geleentheid om betrokke te raak as spelers. Skakel gerus met Pauline Hollis (082 450 2621) of Marietjie Strydom (082 416 8171).
Van die sleutelrolspelers wat betrokke is, is van links: Pierre Bruwer (as Jesus in hoofrol), Pauline Hollis (regisseur), Nina du Toit (musiek) en Pauline Hollis jr (musiek).
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'